MOSSELBAAI GHOLF-NUUS - Gert Pieterse en Koos Snyman het op Woensdag, 25 Julie die krane behoorlik oopgedraai deur as kampioene van die gewilde sakemannedag gekroon te word. Hulle teken 49 punte in die beterbal stablefordkompetisie aan om slegs een punt voor hulle naaste teenstanders, Wessel Brand en Noël Hudson, Rouxwy van Wyk en Charl Goosen, asook Erick Barkhuizen en Tjoepie Pretorius, te eindig.
Die sakemanne se heerlike vleispryse het ook vir Frankie Brown en Johan Strauss, asook André van Wyk en Theo Scheepers, albei pare op 46 punte, breed laat glimlag. Mosselbaai-gholfklub en sy lede waardeer die reuse bydrae wat die groep sakemanne maand na maand lewer om die klubgees steeds uit te bou.
Saterdag
Saterdag, 28 Julie het die 88-jarige George Sadowski en sy veel jonger maat, Steven Terblanche die beterbal houespel op 61 houe gewen. George is een van die merkwaardigste gholflede wat op sy ouderdom nog net so kompeterend is soos enige jongman. George is 'n klinklare bewys dat gholf 'n wonderspel is waar oud en jonk mekaar nog die stryd kan aansê.
Tokkie Kasselman en Marais Pelser, asook André Bruwer en Wiekus Pretorius het ook 61 houe aangeteken, maar na die uittel is hulle tweede en derde geplaas. Op 62 houe het Jacques Budricks en Matthew Lundie, asook Oosie Oosthuizen en Nico Pienaar, ook nog in die pryse gedeel.
Kanker-streekfinale
Die Sanlam Kanker-uitdaagreeks se finaal het op Sondag, 29 Julie op Oubaai plaasgevind. Hendrik Kriek het die A-afdeling totaal en al oorheers en sodoende het hy sy vliegtuigkaartjie Sun City toe bespreek waar hy op 8 en 9 Oktober Mosselbaai se naam gaan hoog hou in die finaal van hierdie toernooi.
Wel gedaan Hendrik, die klub is trots op jou. Spelers wat aan die winter-uitklopreeks deelneem, moet asseblief seker maak dat hulle hul verpligtinge betyds nakom. Heerlike gholf en samesyn word almal toegewens.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'