MOSSELBAAI NUUS - Die wonderlike gees wat in Mosselbaai-gholfklub heers, is ongetwyfeld weer bevestig toe 'n groot aantal lede Maandagoggend opgedaag het met grafies, emmers en onbeskryflike geesdrif.
Die groep het hulle dag opgeoffer om deur ons mooi baan te gaan en al die divots en voëlskropgate weer netjies op te vul, asook met knaphandige snoeiwerk ons baan nog mooier te maak.
Met hierdie gebaar het hulle gehelp om die reusetaak wat die baanwerkers dag vir dag moet doen, te help verlig. Ons is trots om sulke wonderlike lede in ons klub te mag hê.
Woensdag
Global Golf se maandelikse houespel-kompetisie het die 170 spelers behoorlik getoets. In die A-afdeling (voorgee 0-13) het Pieter Steenkamp (voorgee 7) goeie, bestendige gholf gelewer en op 73 houe het hy die bruto-afdeling gewen. Gerhard Pool (voorgee 14) se 82 houe in die B-afdeling (voorgee 14-22) het hom koning laat kraai. Die C-afdeling (voorgee 23+) is deur Gerhardt van Zyl (voorgee 24) op 88 houe gewen. In die netto-afdeling het Frankie Brown (voorgee 20) op 63 houe die septer geswaai. Nic Marais (voorgee 19) en Nico Pienaar (voorgee 19), albei op 64 houe, het breed geglimlag toe hulle ook kon deel in die duursame pryse wat Global Golf voorsien het. Wouter Kotzé (65 houe) en Francois de Villiers (66 houe) is ook nie met leë hande huis toe nie. Aan Arrie van der Linde en sy span wil ons baie dankie sê vir hulle lojale borgskap.
Saterdag
Saterdag, 27 Januarie het 'n heerlike reënbui die oggendveld onverhoeds betrap en 'n klomp papnat, entoesiastiese spelers het nogtans met blydskap die reën verwelkom. Die spelers in die middagveld het een van Mosselbaai se mooiste dae beleef. Die kwalifiserende ronde vir die Windhoek internasionale parekompetisie, die grootste amateur parekompetisie in Suid-Afrika, het ook Saterdag plaasgevind.
Die beterbal stablefordkompetisie is deur Wiekus Schoeman en Jean Borchardt op 48 punte gewen. Hulle is dan ook die paar wat kwalifiseer om na die volgende ronde deur te dring. Hulle droom is om na die finale ronde deur te dring wat in Portugal sal plaasvind, alle kostes ingesluit. Beste wense manne.
Twee van ons sogenaamde swaeltjielede, Ron Bates en Alan Marshall, het ook 48 punte aangeteken, maar moes na die uittel tevrede wees met die tweede plek. Die pa-en-seun kombinasie van Anton (snr) en Anton Izaakse (jnr) was gedug en op 46 punte is hulle ook met 'n heerlike pak vleis huis toe. S Olivier en F van Vuuren (46 punte), asook M Rehr en H Rehr (45 punte) het ook besoek afgelê by die prystafel. Met Januarie iets van die verlede sien ons met geesdrif uit na die res van 2018 en hoop om sommer baie nuwe lede by ons klub te verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'