MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die wenners in die vroue se maandelikse houespel-kompetisie verdien "troelie" 'n Bells. Nie net oor hul uitstekende tellings nie, maar ook oor die onstuitbare gees waarmee hulle hul vorige verowerings van die gesogte glasgraaltjies herhaal het.
Gloria Greyvenstein en Laetitia Higgs het hul derde glastrofeetjies, in die silwer- en koperafdelings onderskeidelik, gebuit. Catherine Bell het haar tweede glastrofeetjie in die bronsafdeling verower. Nog meer bewonderenswaardig is hul tellings. Gloria wat verlede maand ook in die houespelkompetisie koning gekraai het, het 'n netto-telling van 68 vanaf 'n 12-voorgee behaal.
Catherine het dieselfde netto-telling vanaf 'n 25-voorgee geëwenaar, terwyl Laetitia wat bra min op die baan kom, 'n kragtoer met 'n netto-telling van 67 gelewer het vanaf 'n 27-voorgee. In ag genome dat houespel genadeloos vereis dat iedere hou tel totdat die bal in die setgaatjie geval het - bosse, sandkuile en ander rampe ten spyt - voel Jors dié presteerders verdien beslis 'n Skotse snapsie.
Die naaswenners: silwer: Christe Mari Meyer en Leonie de Beer gesamentlik met netto-tellings van 72; brons: Ina Swart (71) en koper: Rachel Mulder (74).
Gail Botha was die naaste aan die vlag op die 15de en het ook 'n spogtweetjie daar behaal. Gloria se spogtweetjie was op nommer 12. Christe Mari was die mees ekonomiese setter met slegs 27 houe op die setperk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'