Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Die tweede agtereenvolgende burgemeestersgholfdag ten bate van gemeenskapsopheffing het Vrydag met groot entoesiasme plaasgevind. Benewens die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, wat ruitelik erken dat hy nie by die groot name in gholf kan kers vashou nie, het 18 spanne afgeslaan vir 'n dag van heelwat pret in skitterende weer.
Die spelers het mekaar goed opgedreun, hoewel die lafenis by die onderskeie geborgte bowwe darem opgemaak het vir die kompeterende aard van die spel.
Na 18 putjies het die span van Business Engineering - ook een van die grootste borge van die byeenkoms - loshande met die wentitel weggestap. Dié span, bestaande uit Philip de Bruin, Estelle Brink, Francois du Plessis en Jacques Koen, moes egter mooi mik om voor die span wat tweede geplaas is, die groep van die Garden Route Casino te eindig. Die Garden Route Casino is verteenwoordig deur Ryan Nicholas, Aletta Greyling, Johnathan Shelver en Attie van Niekerk.
Die gala-aand was oudergewoonte deur die Café Gannet Restaurant geborg en het in die Ochre Room plaasgevind. Soos verlede jaar is sportaandenkings en ander items opgeveil om die fondsinsameling te stu.
Oudergewoonte is die dag baie goed ondersteun deur die onderskeie borge en die organiseerders bedank veral Business Engineering, AON, Rossi Boots, die Mosselbaai-gholfklub, Indalu Game Lodge, Eight Bells, Joan's Bloemiste en Crown National vir hul ruim bydraes wat die dag 'n groot sukses gemak het.
Kas Muller (13) is die jongste speler wat aangetree het vir die tweede burgemeestersgholfdag. Saam met Kas was die burgemeester, raadsheer Harry Levendal en Abrie Nel en Dwayne Scholtz.
Business Engineering - ook een van die grootste borge van die byeenkoms - het loshande met die wentitel weggestap. Dié span, bestaande uit Philip de Bruin, Estelle Brink, Francois du Plessis en Jacques Koen is hier saam met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
Lees 'n vorige artikel: 2de Mosselbaai Burgemeestersgholfdag skop af
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'