MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Augustus het goed afgeskop met 156 spelers wat op Woensdag, 4 Augustus hulle staal getoon het in Bounty Wildsverwerking se maandelikse geborgde dag by die Mosselbaai-gholfklub.
Die individuele stablefordkompetisie het gesorg vir uitmuntende tellings met Franco Cilliers, 'n besoeker, wat op 'n skitterende telling van 44 punte seëvier.
Ons eie plaaslike sterkman en rugbyspeler van formaat, Hendrik Kriek, het self die skroewe styf vasgedraai en vanaf 'n voorgee van 2 eindig hy as naaswenner op 42 punte. Dawid Upton se 41 punte was self nie te versmaai nie en besorg aan hom die derde plek.
Die alomteenwoordige en bestendige Hilton Duminy, het die vierde plek verower nadat hy die uittel teen Clive Theys op 39 punte gewen het.
Die volgende spelers het op 38 punte ook nog hulle vrieskaste met vleispakke gaan laai: Gert Pieterse, Tim Fehrsen en JJ Joubert.
Saterdag
Die spankompetisie wat op Saterdag, 7 Augustus vir die spelers gewag het, was die gewone vierbal-alliansiekompetisie, maar die kinkel in die kabel was dat al vier spelers se tellings bymekaar getel moes word.
Onder die puik veteraan-leierskap van Johann van Langelaar het sy span bestaande uit Roelof Engelbrecht, André Middel en Danie van Langelaar die knoop deurgehaak en op 137 punte was hulle die trotse wenners van die kompetisie.
Die tweede plek (133 punte) is deur C van den Berg, A Zeelie, G Brandt en JJ Joubert ingeneem. Gloria Greyvenstein wat deesdae weer goeie gholf speel, het haar span bestaande uit Gail Botha, Tracy en Danie Venter, suksesvol na die derde wenkampie gelei.
Maandag
Maandag, 9 Augustus is Vrouedag aanvanklik met triestige, reënerige weer begroet.
Van die oggendspelers het besluit om liewer tuis te bly, maar later in die dag het die bittereinders baljaar op die baan. Die individuele stablefordkompetisie het aan Gloria Greyvenstein behoort nadat sy 38 punte opgestapel het.
Die naaste spelers aan haar kon slegs 35 punte aanteken en hulle het by name van M Kriel, K Muller, R Engelbrecht en P van Rooyen die oorblywende plekke gevul.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'