MOSSELBAAI GHOLFNUUS - André Middel, een van ons gedugte ligaspelers, het na 'n strawwe reeks wedstryde daarin geslaag om die eindronde van die enkelspel Winteruitklopkompetisie te haal.
Sy teenstander vir die finaal was Gary Brandt wat ook 'n aantal groot name uit sy pad moes vee op pad na die finaal. Die stryd was fel en André kon eers laat in die kragmeting sy kop voorkry en nou is hy die trotse kampioen vir 2019.
Woensdag
Reënerige, winderige weer het Woensdag, 13 November die oggendspelers onkant betrap en slegs 70 spelers het die middag in aangenamer toestande die spel geniet. Robert Strydom se paadjie wenpaal toe ken geen einde nie. Sy 44 punte in die individuele stablefordkompetisie het sy moedige teenstanders ligjare agtergelaat.
Anton Steenkamp se gholf het drasties verbeter sedert hy plek gevind het in 'n nuwe vierbal wat absoluut die beste uit hom haal. Sy skitterende 42 punte het aan hom die tweede plek besorg.
Jonathon Shelver en Wynand Stander se 41 punte het hulle derde en vierde geplaas met Albie Ellman op 40 punte in die vyfde plek.
Saterdag
Met die rugby wat tot 'n einde gekom het, groei die aantal Saterdagspelers weer fluks.
Saterdag, 16 November het Arrie van der Linde en sy Global Golf-span 136 spelers baan toe gelok. Die individuele stablefordkompetisie is deur die entoesiastiese Jacques Human op 41 punte gewen.
Die tweede plek op 40 punte kon eers na die uittelproses beslis word en Brian Power het net-net die botoon gevoer, met Hilton Duminy in die derde plek.
Dawid Wandrag, koskenner en diereliefhebber by uitstek, het ook gewys dat gholfspeel nog een van sy vele talente is, deur op 39 punte die vierde plek in te neem.
Francois de Lange het ook 39 punte aangeteken en kon ook nog deel in Global Golf se duursame pryse.
Hartlike dank aan Arrie en sy span wat maandeliks die dag moontlik maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'