MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Alwo Derksen (voorgee 10) het op Woensdag, 18 Augustus sy speelmaats op skitterende gholf trakteer.
Hy teken 45 punte (slegs 73 houe) aan om die Denzil Kleu Eiendommedag met ‘n weghol-sege in te palm.
Die individuele stablefordkompetisie het verdere goeie tellings opgelewer en Kabous Pretorius en Ricus Serfontein se 43 punte het gesorg dat die uittel-proses die naaswenner moes bepaal.
Kabous het die proses oorleef en Ricus het die derde plek ingeneem. Nick van Noordwyk het op 41 punte vierde geëindig nadat hy Waldo Vorster, ook 41 punte, in die uittel getroef het.
Saterdag
Saterdag, 21 Augustus se vierbal alliansiekompetisie het die spelers behoorlik laat werk vir hulle punte. Drie van die vierbal se tellings moes na elke putjie bymekaargetel word en dit het voorwaar spanwerk vereis. Die klub se algemene bestuurder, Graeme Viljoen, wat maar selde sy verskyning op die gholfbaan maak, het sy span bestaande uit die 87-jarige Colin Buck, Wiekus Pretorius en Sakkie Morrison tot ‘n klinkende oorwinning op 128 punte gelei.
Op 122 punte het Gordon Engelbrecht, Lambert Roux, Erick Barkhuizen en hulle spookmaat die naaswenners gewees. Ook Kelly Muller, Anthony Evertse, Ashwill Cameron en Michael Kriel is met heerlike braaipakke huis toe.
Winter-uitklopkompetisie
Johann van Langelaar en sy seun Danie van Langelaar het in die Winter-uitklopkompetisie met die gedugte broer-kombinasie, Johan en Lenn Strauss afgereken. Sakkie Morrison en Wiekus Pretorius se bestendigheid het hulle ook na die volgende ronde laat vorder nadat hulle vir Colin Buck en Graeme Viljoen uitgeskakel het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'