MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die heerlike weersomstandighede op Woensdag, 26 Februarie het 172 spelers baan toe gelok om aan die gewilde sakemanne-gholfdag deel te neem. Een van die kompetisies wat vereis dat spelers hulle beste spel moet lewer, is die gekombineerde stableford-kompetisie.
Die samespel van Martiens Mulder en Paul Brits was uitmuntend en op 74 punte het hulle die wenners-podium betree. Kort op hulle hakke was JJ Joubert en Morné Hugo op 73 punte.
Op 71 punte het 'n hele klomp spelers hulle stemme dik gemaak en moes die uittel-proses in werking gestel word.
Die volgende spelers het die derde tot die sesde plekke ingeneem: S Cronjé en C Pinto, B Vermeulen en J Lourens, G Pool en P Barnard, asook C Berg en A Gietz. Diegene wat nie pryse gewen het nie, kon luister na meesleurende musiek en die heerlike kos geniet wat voorgesit is.
Baie dankie aan al die sakemanne wat maand na maand hulle hande diep in hulle sakke steek om so 'n aangename dag moontlik te maak.
Saterdag
Die winderige toestande op Saterdag, 29 Februarie het gesorg dat die individuele houespel kompetisie vir 'n groot aantal spelers in 'n nagmerrie ontaard. Albie Ellman (voorgee 12) het sy gewone bestendige gholf gespeel en op 70 houe het hy koning gekraai. Een van ons veterane,
Dave Steward (voorgee 23) het die toestande ook goed hanteer en op 71 houe het hy die tweede plek ingeneem. Na die uittelproses op 72 houe het die volgende spelers ook huiswaarts gekeer met heerlike braaipakke: André du Plessis (voorgee14), Talvin Schultz (voorgee 18) en André Middel (voorgee 16).
Sedert die stelsel in gebruik geneem is wat spelers 'n keuse toelaat om self die bowwe te bepaal waarvandaan hulle afslaan, het veral die ouer spelers se entoesiasme vir die spel geweldig toegeneem. Indien u nog een van daardie spelers is wat moontlik te trots is om die voorste bowwe te gebruik, is dit hoogtyd dat u daardie moontlikheid moet ondersoek.
Die groot aantal spelers wat reeds hierdie opsie uitoefen, het weer 'n vonkel in die oog en 'n huppel in hulle stappie, vra maar vir oom Oosie en oom Anton.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'