MOSSELBAAI NUUS - Gedurende die eerste helfte van Maart is die jaarlikse klubkampioenskap van die Mosselbaai-gholfklub afgehandel. Op Saterdag, 3 Maart het die veterane (70+ jaar) mekaar die stryd aangesê.
Die gesoute Dawid Gerber het behoorlik sy vernuf ten toon gestel deur op 76 houe as kampioen gekroon te word.
Martiens Mulder (78 houe) het tot die einde op Dawid se hakke gelê, maar kon die knoop net-net nie deurhaak nie. André Zietsman het die netto-afdeling op 67 houe gewen.
Saterdag, 10 Maart het die klub se groot kanonne mekaar aangetree om te bepaal wie as klubkampioen gekroon sou word. In die senior-kampioenskap (50+ jaar) het die afgelope twee jaar se kampioen, Donny Smith, sommer van meet af aan met erns gespeel deur sy eerste ronde in slegs 72 houe te voltooi.
Hy het dit Sondag opgevolg met 'n ronde van 77 houe wat aan hom 'n totaal van 149 houe besorg het. Die gedugte Solly Rautenbach was die naaswenner op 154 houe. Alfred du Plessis was die wenner van die netto-afdeling op 141 houe.
Die kampioen in die B-afdeling was Clive Kaptein (158 houe), maar hy kon eers na die agtste uitspeelputjie teen John Blythe-Wood die wenkampie betree. John Blythe-Wood was 'n waardige naaswenner.
Wenners van Woensdag, 14 Maart se kompetisie. Van links, agter: S van Vuuren, J Joubert, F de Lange en M van Zyl. Voor: H Kriek, G van Zyl en F van Vuuren.
Chris Brits (138 houe) was 'n gewilde wenner in die netto-afdeling. Wikus Schoeman se telling van 149 houe was goed genoeg om die C-afdeling se trofee omhoog te hou.
Die 84-jarige Ron Bates het menige van die jonger manne die loef afgesteek deur op 188 houe die naaswenner te wees. Die nimmereindige, mededingende Gert Pieterse het op 143 houe die netto-afdeling gewen.
Die 15-jarige Jordan Duminy het sy talent behoorlik ten toon gestel teen sy veel ouer en ervare teenstanders in hulle stryd om as kubkampioen gekroon te word. Hy teken Saterdagoggend 'n skitterende bruto-telling van 64 houe aan wat hom na die eerste rondte reeds 12 houe voor sy naaste teenstanders geplaas het.
Sondagoggend was hy reeds in 'n onaanvegbare posisie en na nog 'n rondte van 68 houe eindig hy op 'n bruto-telling van 132 houe, 12 houe onder baansyfer. Dit is die beste wentelling wat nog ooit geboekstaaf is in die 113-jarige bestaan van Mosselbaai-gholfklub. Wat 'n merkwaardige kampioen.
Nog 'n talentvolle junior, Ian Pautz, was die naaswenner op 151 houe. Jonathon Shelver het die netto-afdeling ingepalm op 139 houe. Baie dankie aan Johan en Len Strauss van Old Mutual wat al vir so baie jare as borg van ons kampioenskappe optree. Julle lojaliteit is vir ons van onskatbare waarde!
Mosselbaai-gholfklub se onderskeie kampioene, van links agter: D Smith (senior kampioen), D Gerber (veterane kampioen), C Kaptein (B-afdeling), W Schoeman (C-afdeling) en Johan Strauss (Ou Mutual). Voor: Len Strauss (Ou Mutual), Ilze Nel (vroue kampioen), Jordan Duminy (klubkampioen) en Shirley Pressley (brons).
Klubkompetisies
Die gewone klubkompetisies is ook weer op dreef na die klubkampioenskap. Woensdag, 14 Maart het Gerhardt van Zyl met die hulp van sy spookmaat die beterbal stablefordkompetisie na 'n uittel op 49 punte gewen.
In die tweede en derde plekke ook op 49 punte het Jan Joubert en Gerrit van Zyl, asook Francois de Lange en sy spookmaat ook prystafel toe gestap. Die pa-en-seun-kombinasie van Fanie en Stefan van Vuuren, asook Marius van Zyl en Hendrik Kriek, het vierde en vyfde geëindig.
Saterdag, 17 Maart het die spelers mekaar die stryd aangesê in die vierbal alliansie kompetisie. Sabine Schultz, Gary Rule, asook Hanlie en Div de
Villiers het op 99 punte die louere ingeoes. Tweede het B Power, S Saayman, D en P Strauss op 90 punte ook gelukkig huis toe gegaan. Anton Steenkamp en sy span bestaande uit L Loubser, A van Niekerk en B Jongen het ook 90 punte aangeteken, maar is na die uittel derde geplaas.
'n Heerlike week word julle almal toegewens en na die welkome reëntjie is die baan lowergroen en is dit net 'n plesier om die stokke te kom swaai!
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'