Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Met die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees wat die komende naweek ten einde loop, is sokker hierdie week die groot trekpleister.
Sporthoogtepunte, binnenshuis en buitenshuis, het weer eens die afgelope naweek vir groot vermaak gesorg. Duisende feesgangers en sportlui het byeenkomste van die 14 sportkodes geniet.
Onder die hoogtepunte was die PetroSA Marathon en die Mayoral Cup Rugby in Groot Brak.
Sokker
Die sokker het reeds Saterdag, 6 Oktober afgeskop met 16 spanne wat mekaar die stryd aangesê het. Doelwagters sal tot Saterdag, 13 Oktober elke dag moet bontstaan om balle uit die nette te hou, met dié sportkode wat elke dag hierdie week op die program is.
Basketbal en branderplankry is ook vir Vrydag, 12 Oktober (basketbal) en Saterdag 13 Oktober (basketbal en branderplankry) op die feesprogram.
Feesgangers moet ook nie Saterdag se bokstoernooi by Imekhaya Primêre Skool misloop nie.
Fietsry
Die gewilde, maar uiters uitmergelende Cape Pioneer Trek se wegtrek op 16 Oktober sal dan ook die einde van vanjaar se sportfees wees. Hierdie groot geleentheid vind by Milkwood Primêre Skool plaas en aktiwiteite sal in en rondom Mosselbaai plaasvind.
Die afgelope naweek (Saterdag, 6 Oktober en Sondag, 7 Oktober) het sportlui regoor die dorp, op sowel die Mosselbaai-rolbalbaan, in die branders rondom Santos, op rugbyvelde, tennisbane en die modelvliegtuigbaan gekompeteer.
Daar was lekker interaksie tussen die rolbalspanne.
Foto's: Christo Vermaak, Elaine van der Toorn, Grey Stopforth, Julian Scholtz en Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'