MOSSELBAAI SOKKER NUUS - Ruim borgskap deur Nedbank het vanjaar weer eens die deurslag gegee vir die jaarlikse burgemeestersokkertoernooi wat as deel van die agtste Sport- en Rekreasiefees aangebied word.
Hierdie toernooi is in 2018 vir die eerste keer geloods.
Vanjaar het die besigheidsbestuurder van Nedbank Mosselbaai, Herman Meyer gesê sy bankgroep is verbind tot die toernooi en sal vir die afsienbare toekoms die toernooi befonds.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het sy dank teenoor Meyer en die bankgroep uitgespreek vir hul ruim bydrae en het hul betrokkenheid by sportontwikkeling geprys.
"Sonder borge soos Nedbank se betrokkenheid sou die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees nie die sukses gewees het wat dit is nie. Vir my as burgemeester is sportontwikkeling veral belangrik, want dit bou brûe tussen gemeenskappe en dit bou karakter by die spelers. Mag hierdie borgskap heelwat jongmense se toekomsdrome waar maak."
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het 'n ruim borgskap van Mosselbaai se besigheidsbestuurder van Nedbank, Herman Meyer vir die burgemeestersokkertoernooi ontvang. By die geleentheid was Setchmor Rhoodes, Peter Juthe, die direkteur van gemeenskapsdienste Elize Nel, Logan Duthie en Laurenz de Klerk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'