MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se o/19A krieketspan het die naweek geskiedenis gemaak deur die B-liga van die SWD Superliga vir skole oortuigend te wen toe hulle in die finaal teen York High School van George te staan gekom het.
York het eerste gekolf en teken 169/10 in 46 boulbeurte aan. Dale Jansen (kaptein van Punt) het drie van die paaltjies geneem.
Punt het 'n goeie begin met die kolf gehad en 'n wonderlike openingsvennootskap van 56 lopies tussen Whitey Bester en Zane Greyling het die toon gestel.
Whitey het voortgegaan om 48 lopies op die dag aan te teken. Punt het die wenlopies met vyf paaltjies in die hand en 18 boulbeurte oor aangeteken.
Dit beteken Punt se eerstespan sal volgende jaar in die A-liga van die Superliga speel.
Volgens 'n Punt-woordvoerder is Punt baie dankbaar aan elke ouer, borg, speler en ondersteuner vir die "wonderlike seisoen".
"Ons sien uit na 2023 se nuwe uitdaging."
Indien enigiemand by die krieket betrokke wil raak, kontak die kriekethoof, Rudolf Botha (hodmaths@pointhighschool.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'