TUINROETE DISTRIK KRIEKETNUUS - Ottniel Baartman (28), 'n voormalige SWD-krieketspeler en gebore Oudtshoorniet, het verlede week tydens KSA se jaarlikse (virtuele) toekenningseremonie die eerste Makhaya Ntini Power of Cricket-toekenning ontvang.
Die inspirasie agter hierdie toekenning is 'n krieketspeler wat in Suid-Afrika se sportgeskiedenis sal opgaan vir sy impak, sy oorvloedige energie en sy buitengewone prestasies in krieket.
Gebore in die nederige omgewing van Oudtshoorn in die Klein-Karoo, is Baartman se toewyding om uitnemendheid met 'n krieketbal in die hand na te streef, 'n bewys van die krag van krieket.
Dit het dié mediumbouler slegs 16 eersterangse wedstryde by SWD gekos om 50 paaltjies te haal. Daarna het hy sy eerste professionele franchise-kontrak in 2015 by die Knights geteken en in 2020, geskuif na die Dolphins.
Baartman se konstante goeie vertonings en kanniedood-houding het meegebring dat hy vroeër vanjaar vir die Protea-toetsgroep vir twee wedstryde in Pakistan opgeroep is.
Die nou afgetrede Ntini, se styging tot die hoogste vlakke in krieket vanuit 'n plattelandse opvoeding, het baie jong krieketspelers regoor die wêreld geïnspireer, en daarom word die Makhaya Ntini Power of Cricket-toekenning ingestel om die vermoë te demonstreer dat krieket lewens en gemeenskappe kan verander.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'