TUINROETE NUUS - Die 30ste Highgate interprovinsiale tweekampbyeenkoms vind hierdie naweek in Oudtshoorn plaas.
Volgens een van die organiseerders, Dave van der Walt, is vanjaar se tweekamp geskiedkundig omdat die struktuur van tweekamp in Suid-Afrika hernuwe is om aan internasionale standaarde te voldoen.
Van der Walt sê verder dat die naweek se byeenkoms die eerste interprovinsiale een van sy soort is wat onder die Covid-19-regulasies aangebied word wat beteken dit dat alle wenners dus effektief as SA rekordhouers gekroon sal word.
Die organiseerders vanjaar, Eden en WP-tweekamp, beoog ook om die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais asook die burgemeester van Oudtshoorn, Chad Louw, as eregaste te ontvang.
Blackie Swart, president van SA tweekamp, sal ook die byeenkoms bywoon.
Johan Windt van Mosselbaai sal ook in aksie wees.
Sewe van Suid-Afrika se top-tweekampprovinsies, WP, Boland, OP, Eden, Suid-Vrystaat, GW en Grens neem deel an die skouspel. Van die land se topatlete en huidige SA kampioene tel onder die 435 ingeskrewe atlete.
Atlete vanaf o/8 tot 70+ neem deel aan die gesogte gesinsport. Toegang is gratis en daar sal voldoende kos- en ander stalletjies wees.
Die byeenkoms begin Saterdagoggend om 08:00 by die De Jager-sportkompleks waarna dit oorskuif van die NA Smit-swembad vir die swemitems gevolg deur die prysuitdeling.
Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'