MOSSELBAAI NUUS - Opwinding vir die Bestmed Eden-straatmylreeks is besig om op bou.
Met die inskrywings sover van die topatlete en -fietsryers ontvang, beloof dit om weer eens 'n pragreeks te wees.
Bestmed, een van Suid-Afrika se leidende mediese hulpskemas, tree weer vanjaar as die anker- en naamborg vir dié gewilde vakansiereeks op. Die fietsry-kermesse by die NMU George Kampus wat verlede jaar as gevolg van swak weersomstandighede afgestel moes word, is weer op die program vir 2018.
Bestmed bied ook verskeie aktiverings-programme op van die Suid-Kaapse strande aan. Saterdag, 15 Desember op Oubaai en Donderdag, 20 Desember op Hartenbos.
Vanjaar word ook die bergfiets [MTB eliminator] en voetslaanstaptogte op die NMU program aangebied. Dit word weer onder die beskerming van die KKAF en in vennootskap met ASWD, Eden Fietsry, NMU, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Kovsies en die ATKV aangebied. Hierdie vennootskap ondersteun die visie van 'n gesonde leefstyl en as sulks is hierdie borgskap net tot voordeel van sport en gesondheid in die Eden-distrik.
Top talent
Met van Suid-Afrika se beste straatmylatlete in aksie, Jerry Motsau, Amos Nyonga en die opkomende ster, Ryan Mphahlele, is daar verseker 'n sub-vierminute myl op die kaarte. Ook in die vrouewedlope kan vuurwerke verwag word met Nolene Conrad, Farida Zwane, Cara du Preez en Elne Conradie wat mekaar die stryd aansê.
Van die topatlete en fietsryers wat alreeds hulle belangstelling aangedui het, is Nolene Conrad, Cara du Preez, Ashley Smith, Ryan Mphahlele, Farida Zwane, Amos Nyonga, Jerry Motsau, Du Wayne Philander, Dullen Solomons, Sibusiso Magwaza en Elana Meyer's Edurocad se 20 atlete. Kovsies, Maties, UWC en NWU, om maar 'n paar te noem, het ook hul deelname bevestig.
Volgens Corné Bence, president van Eden Fietsry, is die topfietsryers wat reeds belangstelling getoon het, Protea-ryers soos Yolande de Villiers, Benino Hans, Anriette Schoeman, Louis Visser (Didata), Marcal Hendricks, Ivan Carstens en Theuns van der Bank. Die Giant-span, C4D-span van dr Jacques van Staden en Team Aplha Body Works het reeds bevestig en die ontwikkelingspan van Bestmed is ook op die kaarte.
Verskeidenheid
Die eerste been van die reeks word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die Bestmed Klein Karoo-straatmyl. Dit vind plaas in Baron van Reedestraat op Maandag, 17 Desember. Die tweede been vind op die NMU George Kampus (Saasveld) plaas Woensdag, 19 Desember en staan bekend as die Bestmed Madibaz-straatmyl. Die derde been vind op 21 Desember by die ATKV-terrein in Hartenbos plaas as en staan bekend as die Bestmed/ATKV-straatmyl.
Die Vrystaatse Universiteit (Kovsies) borg weer die Grand Prix deel van die reeks. Die mans- en vroue-atleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die groot prys wegstap. Soos in die verlede, poog die organiseerders om die top myl- en 1 500m-atlete in Suid-Afrika hierheen te lok.
'n Spesiale poging word aangewend om alle universiteit-klubs ook te nooi. In die afgelope vier jaar is nie minder as ses droommyle (sub vier minute) in die reeks gehardloop.
Dit was Johan Cronje (3:52.60), Dumisane Hlaselo (3:55,71), Elroy Gelant (3:56,74), Nyongo Amos (3:55:60 en 3:52:99) en Jerry Motsau (3:59,81).
Die myl-snelren op Oudtshoorn gaan beslis van die land se topfietsryers trek en daar word onderhandel om die Bestmed-span hier te kry. Die atletiekstraatmyle word in die volgende kategorië aangebied: sub-juniors (9-13), juniors (14-19 jr), elite/ope (20-39) en 40+.
Daar is ook vanjaar weer pryse vir die eerste Eden/SWD-atlete oor die wenstreep.
Die fietsry-mylren (Oudtshoorn) asook die kermesse (NMU) se kategorië is sub-juniors (o/9, o/11 en o/13), juniors (o/15 en o/17); Elite (o/19, 0/23, veterane) en veterane (35- 49, en 50+).
Om meer vir die vakansiebesoekers aan die Tuinroete en Klein Karoo te bied, word saam met die NMU-straatmyl 'n bergfiets (MTB eliminator) asook 'n staptog aangebied.
Sonder borge van formaat kan so 'n reeks beslis nie aangebied word nie. Aanvullend tot die borge reeds genoem, is EdenFM, radio-vennootborg; Group Editors, media-vennootborg; Oudtshoorn Ford, voertuigborg; Klein Karoo Internasionaal (borg) ook aan boord.
Inskrywings kan op www.edenmiles.co.za gedoen word. Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié webtuiste gevind word. Vir enige navrae kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za of skakel vir Hans van der Veen (083 462 0477) of Dave van der Walt (082 773 4901).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'