MOSSELBAAI NUUS - Met 'n allemintige 616 atlete uit sewe provinsies wat Saterdag op Oudtshoorn aan die 29ste interprovinsiale tweekampbyeenkoms gaan deelneem, kan die verwagte vuurwarmaksie op die baan en in die swembad die temperatuur na-aan kookpunt laat styg.
Verlede jaar se byeenkoms, waaraan 594 atlete deelgeneem het, het drie SA rekords en agt nuwe byeenkomsrekords opgelewer.
Nou is 'n groot gros van Suid-Afrika se voorste tweekampatlete weer in aksie. Dit sal ook die grootste interprovinsiale kragmeting wees wat nog aangebied is.
Vir die atlete is daar 'n groot aansporing om topprestasies te lewer siende dat provinsies dié byeenkoms gebruik om aan hulle spanne te skaaf wat van 20 tot 21 Maart, ook op Oudtshoorn, aan die SA kampioenskappe gaan deelneem.
Van Suid-Afrika se beste tweekampatlete wat gaan mekaar weer Saterdag aandurf, is Mike Forbes (Grens), Johan Windt, Ruben en Lomé Gous, Luke Scott, André Kleynhans, Walter Lutsch, Jada Coetzee, Mathew Seabrook en Minke Janse van Rensburg (almal Eden), Retief Ochse, Kelly Vroon, Taliana Thomatos, Charné van Tonder, Brendon Oosthuizen, Jeandré Swanepoel, Roger Bezuidenhout, Micheal Archer, Marille Bass (WP), Keira van Heerden, Matthew van Coller, Anke Serfontein en Code Coombe-Davis (OP) en Michiel Brand en Leatitia Human (Griekwaland-Wes).
Die provinsies wat atlete stuur, is Eden, Boland, Westelike Provinsie, Grens, Griekwaland-Wes, Oostelike Provinsie, Vrystaat en Griekwas.
Die spankompetisie gaan vanjaar groot uitdagings van die WP (152 atlete]), Boland (202), Eden (127) en die OP (96) vereis. Elke provinsiale span word ook toegelaat om 'n A-span, B-span en 'n ontwikkelingspan in te skryf. Dit is een van die min byeenkomste waar die ontwikkelingsatleet ook tot sy reg kom. Items vir die gestremde atlete, bestaande uit 400m-naelloop en 50m-swem, is nou al 'n standaarditem op die program.
Die Highgate-volstruisplaas, ankerborg van Eden-tweekamp, en die Kango-grotte bied weer spesiale aansporingpryse aan vir alle wenners. Die ander groot borge is die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DCAS), Wimpy en die groter Oudtshoorn-munisipaliteit.
Alle belangstellendes word genooi en toegang is gratis.
Die tweekamp begin Saterdag by die De Jager-sportkompleks met die opening om 07:30 waarna die hardloopnommer om 08:00 afskop. Dan volg die swem by die NA Smit-swembad.
Vanjaar se gesamentlike aanbieders van die tweekampbyeenkoms is Boland en Eden. Beamptes van sowel die WP as Boland sal ook kom help.
Konserwatief geskat, dra hierdie byeenkoms sowat R4,5 miljoen by tot die ekonomie van Oudtshoorn.
Die prysuitdeling is Saterdagaand by die Highgate-volstruisvertoonplaas.
Vir enige navrae kontak Dave van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'