MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se Jordan Jaars, seuns o/15 spiesgooi, het vanaf 20 tot 23 Maart, as deel van die WP atletiekspan, aan die SA skolekampioen-skappe in Port Elizabeth deelgeneem.
Hy het gekwalifiseer om te gaan deelneem, deur 'n goue medalje (met 'n afstand van 58,59m) in die Paarl, tydens die Wes-Kaap byeenkoms, te verower.
Hy het tydens die byeenkoms in Port Elizabeth 'n afstand van 42,63m gegooi wat hom 'n 13de plek besorg het en hom een van die beste junior spiesgooiers in die land maak.
Punt se Elné Conradie en Danelle Human het vanaf 28 tot 30 Maart, in Paarl, aan die ASA juniors deelgeneem. Elné het aan die 800m deelgeneem, met 'n tyd van 2:21.09, wat aan haar 'n sewende plek besorg het.
Danelle het aan die 100m deelgeneem, met 'n tyd van 12.80, wat aan haar 'n sesde plek besorg het.
Wat hulle uitslae spesiaal maak, is dat Elné in die o/18-ouderdomsgroep deelgeneem het en Danelle in die o/20-ouderdomsgroep, 'n ouderdomsgroep hoër as waarin hul normaalweg meeding.
Punt is trots op Jordan, Elné en Danelle met hulle pragtige uitslae en bedank hulle afrigters vir die harde werk agter die skerms.
Danelle Human.
Jordan Jaars.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'