Gallery
MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die ASWD Nedbank-hardloopklub van Mosselbaai en George het op Saterdag, 10 April by Mooiuitsig-restaurant op die R102 (ou lughawepad) byeengekom om deel te neem aan die klub se virtuele Twee Oseane-padwedloop.
Deelnemers kon tussen ’n 10km- of 21km-roete kies.
Natuurlik is daar nie van die deelnemers verwag om die opdraande op pad na Mooiuitsig self aan te pak nie, maar is hulle danksy Sammie Breet daarheen vervoer en het by Spar De Dekke op Groot Brak klaargemaak.
Die jongste deelnemer was Zack Breet (12) wat gewys het dat langasem-atlete al van jongs af gekweek kan word.
Fotogalery: ASWD Nedbank-hardloopklub draf virtuele Twee Oseane kaf
Vir sommiges soos Tymme de Wet (35) was hierdie geleentheid baie spesiaal aangesien sy haar eerste 21km-padwedloop voltooi het en daarby die gelukstrekking gewen het. As wenner hiervan spog sy nou met ’n nuwe paar Nike-tekkies - enige hardloper se droom.
Aangesien dit ’n lieflike sonskyndag op die pad was is daar deurgaans voorsiening gemaak vir yskoue drinkwater. Hiervoor het tannie Corrie Taljaard, wat gereeld entoesiasties instem om die waterkar te wees, gesorg. Joseph Baruch van MediCube het vrywillig as mediese personeel opgetree.
Die organiseerders van die dag was Adri Raubenheimer, Danie Raubenheimer en Alta Taljaard.
Baie mense sal die organiseerders vra “Hoekom hardloop julle as julle motors het?” “Wel, om vir Forrest Gump aan te haal: ‘[We] just felt like running.’”
En omdat hardloop so lekker is, beplan ASWD Nedbank alreeds aan ’n virtuele Comrades-padwedloop vir later vanjaar.
ASWD Nedbank-hardloopklub het 'n virtuele Twee Oseane-padwedloop gedoen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'