Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Jy moenie te vinnig begin nie. Hoe weet jy dit? Jy moenie jou asemhaling kan hoor nie. Jy moet kan gesels." Dít was die legendariese atleet Ralie Smit (73) se woorde aan die groentjies wat vanjaar vir die eerste die Comrades-marathon in Hartenbos Drawwers se kleure gaan aandurf. Ralie was die gasspreker by die Hartenbos Drawwers se twaalfde "goodie bag"-funksie wat vanjaar tydens 'n spoggerige geleentheid op Saterdag, 19 Mei by die Jakkalsvlei-wynplaas in Herbertsdale gehou is.
Sy vertel dat sy nooit 'n atleet was nie en destyds net sou inwillig om 'n aflos te hardloop as dit aan die verste kant van die baan, weg van die pawiljoen en onder die toeskouers se oë uit was. Toe het sy as onderwyseres begin hardloop met 'n bull mastiff as haar drafmaat. In die jare toe sy begin Comrades hardloop het, het die vroue-atlete nie medaljes ontvang nie, maar meen Ralie "sy't nie daaroor geworry nie", sy't net gehardloop.
Tussen 1980 en 1997, voltooi sy 14 Comrades-marathons waartydens sy agt goue medaljes inpalm. Sy het drie keer 'n derde plek behaal en een keer, 'n skitterende tweede. Op 43, hardloop sy 'n skittertyd van 7 uur en 1 minuut. 'n Rugoperasie in 1999 het haar genoop om af te skaal.
"Aan die novices wil ek net sê, julle gaan by die Comrades voel soos daardie Meghan-girl toe sy vandag in die kerk ingekom het," het Ralie 'n vergelyking getref tussen die beginners se marathon-deelname en die koninklike troue tussen Prins Harry en aktrise Meghan Markle wat ook Saterdag plaasgevind het.
Bowenal, het Ralie gesê die senuwees ten spyt, is die Comrades iets wat net geniet moet word, want "daar kom jare, soos die Bybel ook sê, wat jy dit nie kan doen nie".
Skalla van Schalkwyk saam met die nuwe klubvoorsitter van die Hartenbos Drawwers, Johan Viljoen (regs).
Oudste en grootste
Pierre (Skalla) van Schalkwyk, die programleier, het die aand ingelui deur te sê dat die Comrades die grootste, jaarlikse sportbyeenkoms in Suid-Afrika is, gemeet aan die kykertal. Onder die 21 000 deelnemers wat gaan wegspring met die hoop om onder 12 ure klaar te maak, is die 32 atlete van Hartenbos Drawwers.
Die ses nuwelinge wat vanjaar deelneem is Cherwin Saaiman, Anneke Otto, Anada Joubert, Leon Holtzhausen, Liezl Botha en Frank Dayizana. Vier van die klub se atlete pak vanjaar hulle 10de Comrades aan en sal dan hulle groen- of permanente nommers gaan verdien.
Die opgewondenheid onder Hartenbos Drawwers se atlete wat vanjaar aan die Comrades-marathon gaan deelneem, was tasbaar tydens die klub se jaarlikse goodie bag-geleentheid ter voorbereiding van die marathon.
Louise Vorster, draf vanjaar uit om haar 19de Comrades te voltooi, die tweede meeste in die klub met rekordhouer Kleintjie van Schalkwyk wat die vroue-atleet is met die meeste Comrades-marathons op haar kerfstok, naamlik 34.
Die 32 deelnemende atlete van Hartenbos Drawwers het altesaam 190 Comrades-marathons voltooi.
"Dit beteken dit is 'n klub met baie ondervinding en spog ook met die meeste deelnemers van al die klubs in die SWD die afgelope paar jaar." Borge het ruim bygedra en deelnemers is onder meer toegerus met twee kwaliteit hemde en koffiebekers wat in hulle geskenksakke was. Hartenbos Drawwers-lid, Helena Jonker het die spoggeleentheid gereël.
"In 2020 vind die 95ste Comrades plaas. Ons moedig nou al die nuwelinge aan om te begin oefen. Die klub sal graag 60 atlete in Hartenbos Drawwers se kleure oor twee jaar wil sien by die wegspring in Pietermaritzburg," het Skalla aangemoedig.
Foto's: Nenane Bester
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'