MOSSELBAAI NUUS - 'n Plaaslike lang- en middellangafstandafrigter wil ouers en voogde bewus maak van die Mosselbaai Harriers se Junior Ontwikkelingsprogram.
"Dié program het ontstaan uit my passie vir lang- en middellangafstandhardloop en my begeerte om 'n positiewe verskil in die lewens van kinders en jongmense in Mosselbaai te maak," sê Cheslyn Kruger, 'n vlak 1-geakkrediteerde ASA-afrigter en vrywillige afrigter by Mosselbaai Harriers.
"Ek glo sport is 'n belangrike instrument om dissipline, selfvertroue, deursettingsvermoë en 'n gevoel van 'behoort' by jong atlete te ontwikkel."
Kruger sê die doel is om kinders, veral dié uit minderbevoorregte gemeenskappe, toegang tot gestruktureerde atletiekafrigting te gee en geleenthede te bied wat hulle andersins dalk nie sou hê nie.
Fokus
Die program fokus tans op die ontwikkeling van kinders tussen sewe en 13 jaar. Dit bied gestruktureerde oefensessies, tydtoetse en geleenthede om aan padwedlope en ander atletiekaktiwiteite deel te neem.
"Ons moedig die kinders aan om gereeld deel te neem, hul persoonlike prestasies te verbeter en as 'n span saam te werk. Hul onlangse deelname aan die Hartenbos-drawwers se 4 km-padwedloop is een voorbeeld van die geleenthede wat ons atlete reeds benut."
Toekoms
"My visie is om 'n volhoubare junior atletiekontwikkelingsprogram in Mosselbaai te vestig wat kinders nie net help om beter hardlopers te word nie, maar ook om verantwoordelike, gedissiplineerde en selfversekerde jongmense te wees."
Met die ondersteuning van die Mosselbaai Harriers, plaaslike skole, ouers, gemeenskapsvennote en moontlike borge wil Kruger deur dié program meer kinders by die sport betrek. Hy wil gereelde, gestruktureerde oefensessies en ontwikkelingsplanne aanbied, atlete aan padwedlope blootstel en hardloopskoene, oefenklere en ander noodsaaklike toerusting vir behoeftige atlete bekom. Hy wil ook vervoer en toegang tot wedlope vir kinders moontlik maak.
Kontak Kruger by 071 740 3882 vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’