OPINIE - Een van die grootste ontnugterings - indien dit nie dié grootste is nie - wat mense ná aftrede beleef is dat hulle skielik ‘niks’ is nie!
Ek meen, die een dag het ek ’n titel, ’n rang, ’n posbeskrywing, ’n ‘baas’ - of ek was dalk self ‘n ‘baas’ met ’n kantoor, ’n direkteurstoel en ’n kunsplant - om dan die volgende oggend net niks te wees nie.
In dié opsig het ek nou niks meer van dit wat ek voor aftreedag gehad het nie!
Tydens my loopbaan as kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens was daar senior offisiere wat moeilik was en rang getrek het en op dié manier amper vrees by die lede wou inboesem.
Dan het die polisielede so in die loop gesê: “Toemaar, een van die dae is hy of sy maar net ’n ou omie of tannie wat sélf by die poskantoor of bank in die tou moet gaan staan en wag vir ’n beurt om gehelp te word.
Geen uniform, geen rang, geen titel - net ’n afgetrede persoon wat saam moet wag.” Vandag weet baie mense nie eers wat ’n generaal of ’n brigadier is nie.
Die ‘niks’ tref my
Dié ‘niks’ tref my toe ek my eerste brief/e-pos ná aftrede moes skryf.
Wat ’n ontnugtering toe ek nie weet watter briefhoof, kenteken, titel en posbeskrywing ek moet aanbring soos nog net ’n paar dae vantevore nie!
Groot was die versoeking om my Mareefamiliewapen te gebruik om ten minste iets te gebruik om darem te wys dat ek nog ’n klein stukkie ‘iets’ is.
Van iets tot... niks!
Die polisiefamilie het ’n tradisie dat jy die laaste dag wat jy van jou standplaas af wegstap huis toe, moet sorg dat jy nie die volgende oggend by jou eie blyplek wakker word nie, anders oorval hierdie skielike realiteit jou - dat jy sonder die wekker wakker skrik en dink dat jy laat is vir werk, om dan maar net skielik te ontdek jy maak klaar om nêrens heen te gaan nie.
Ek was bevoorreg om my eerste oggend nadat ek finaal by my polisiekantoor weggestap het saam met my hartsmense, dié wat deur dik en dun by my gestaan het, in my geglo het en my liefgehad het, by die Mabalingwe-natuurreservaat sonder ’n wekker wakker te word.
Hierdie resep het gewerk, want daai oggend het ek begin opgewonde raak oor wat voorlê: ’n lewe met baie tyd saam met my hartsmense om te doen wat ek wil en wanneer ek wil.
Ek glo dat ván die ankers wat my gehelp het om suksesvol en met grasie in dié nuwe lewe waarna baie so smag oor te stap, was:
• dat ek deur die soenoffer van Jesus ’n Pa het wat die Koning van die groot heelal is. • dat ek hartsmense het wat my onvoorwaardelik liefgehad het en te midde van al my foute in my geglo het.
• dat my passie vir die lewe en mense my opgewonde vir die toekoms gemaak het, en my rede gee om na elke dag uit te sien.
• dat ek geglo het dat daar nie ’n one size fits all-aftreeresep is nie, maar dat ek volgens my unieke persoonlikheid en denkvoorkeure myself vir aftrede en die lewe daarná, wat ek tans terdeë geniet, kon voorberei.
Aftrede hoef nie ‘van iets tot niks’ te wees nie, maar kan vir seker eerder ‘van iets tot iets groter en beter’ wees.
Dit kan die begin van ’n nuwe hoofstuk en seisoen in my lewe wees, waarvan ekself saam met die Here (my Hemelse Pa) verder aan my storie kan skryf.
*Christo Maree het op 60 as kapelaan van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste afgetree en in Desember 2023 sy emeritaat as leraar uit die Bybelgenootskap aanvaar. Daarna het hy hom in Hartenbos kom vestig, waar hy steeds aktief sy bediening uitleef.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’