OPINIE - Tweetaligheid (of veeltaligheid) is maar 'n snaakse ding - amper soos wat hulle van hoender by 'n braaivleisvuur praat.
Jy dink dalk net jy sê of leer die regte ding (jou taal is gaar genoeg), en as jy jouself weer kan kry, bedien jy 'n happie salmonella aan wie ook al luister. Maar dis oukei.
Gelukkig, soos met hoender, wéét almal taal is maar 'n snaakse ding en moet jou Mengels baie wild wees voor hulle jou nie verstaan nie.
In my konteks verwys ek nou natuurlik na Afrikaans en Engels, die twee tale wat ek van kleinsaf al geleer is en ten volle magtig is.
Partykeer kry ek dit selfs reg om my Afrikaanse aksent in Engels te verbloem - geensins 'n vereiste nie, maar tog iets wat snaaks is as twee sulke mense met mekaar Engels praat en nie een kom agter hulle is eintlik albei Afrikaans nie.
Binne 'n werkskonteks het ek al in twee kantore gewerk met meer as net my moedertaal. Die eerste een was veeltalig met byna alles van Tshivenda, siSwati en Xitsonga tot Afrikaans en Engels.
Engels is dus baie gepraat, maar soos baie van ons weet, raak die Engels party dae maar min.
Dan het ons maar net gelag en na onsself verwys as bye-lingual. Kom ons maak die Afrikaanse ekwivalent sommer iets soos... totsiens-talig.
Nietemin, ons leer by mekaar, en daar waar jy 'n woord vergeet, help 'n ander en as dáái woord nie werk nie kom iemand anders en vertaal hom in 'n derde of vierde taal tot almal verstaan - ek mis dit nogal.
In my Mosselbaai-kantoor sit ons met oorheersend Afrikaans en bietjie Engels. Die Mengels wat soms daar uitkom is genoeg om die tweetalige woordeboek op my lessenaar te laat bloos.
Een kollega spesifiek, werk baie hard aan haar Afrikaans. Die verstaan is daar, die praat volg nog.
Ek sal nie verbaas wees as sy teen hierdie tyd volgende jaar 'n volledige gesprek kan voer nie.
Wat vir my mooi is, is mense se verdraagsaamheid terwyl sy leer.
Ná sy gegroet het oor die foon is die volgende stap gewoonlik om te sê: "Skies, my Afrikaans is nie baie goed nie, kan ek maar Engels praat?"
Dan (aanvaar ek) lag die persoon aan die ander kant gewoonlik, en sy lag, en hulle gaan voort in 'n taal waarmee sy meer gemaklik is.
Máár, hier en daar gooi sy bietjie Afrikaans in. Dit kom soms effens vreemd uit, maar ek is seker die persoon aan die ander kant waardeer die poging.
As jy meer as een taal magtig is, reken ek dit vat niks van jou weg om oor te slaan na watter taal ook al vir die ander persoon die maklikste is nie. Tensy hulle sê jy kan maar praat wat jy wil, hulle gaan net in iets anders antwoord - solank almal mekaar verstaan.
En, staan dalk bietjie ekstra tyd in jou dag af om bietjie meer oor 'n ander taal te leer. Ek weet ék kan beslis meer moeite daarmee doen.
Jy sal verbaas wees wat jy by 'n kollega, kennis of vriend kan leer, wat 'n ander taal as jy praat.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.