NASIONALE NUUS - Net enkele dae na Gekkedag op 1 April, kry Suid-Kapenaars die kans om hul stemme dik te maak oor grondonteiening sonder vergoeding.
Die parlementêre ad hoc-komitee op die wysiging van artikel 25 van die grondwet, hou op 4 April in Mosselbaai 'n openbare verhoor oor dié hoogs kontroversiële onderwerp.
Daar is reeds besluit dat artikel 25 gewysig moet word, so die verhoor - een van talle dwarsoor die land - fokus slegs op die aard van die onteieningswysigings. Talle opposisie partye en organisasies is gekant teen die wetsontwerp wat beoog om die besluit oor onteiening van die howe na die uitvoerende gesag te skuif.
Dit moet nog bevestig word waar in Mosselbaai die openbare verhoor gehou sal word.
Dit is oop vir almal en het ten doel om komiteelede insae, en hopelik ook insig, te gee in die publiek se menings en vrese. Die afsnypunt vir geskrewe kommentaar was reeds einde Februarie.
Die totale komitee bestaan uit 14 LP's van verskeie politikieke partye wat in twee groepe van ses en agt die land deurkruis. Die DA se verteenwoordiger op die komitee van ses wat Mosselbaai besoek, dr. Mimmy Gondwe, sê die DA sal die wysiging hand en tand beveg, en neem deel aan die proses om soveel inligting moontlik in te win om hul saak te versterk.
Interessante parlementariers in Groep A wat saam met Gondwe Mosselbaai toe kom, is EFF-leier Julius Malema, voormalige ANC-hoofsweep, Mathole Motshekga en Madiba se kleinseun, Mandla Mandela, ook van die ANC.
Die ander Groep A-komiteelede is die ANC LP's Dibolelo Mahlatsi en Nolitha Ntobongwana.
DA LP Mimmy Gondwe
Londt: Mobiliseer
Jaco Londt LP, DA-streekvoorsitter en Mosselbaai se kiesafdelingshoof, sê dit is van kritieke belang dat alle individue, organisasies en rolspelers regoor die Suid-Kaap, maar veral Mosselbaai, mobiliseer en hul teenkanting duidelik uitspreek.
"Die wetsontwerp - soos dit nou staan - sê 'n hof mag bepaal dat 'n vergoedingsbedrag nul is.
"Verder eis die wetsontwerp dat nasionale wetgewing die omstandighede uiteen sit waarbinne 'n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is. Boonop het die ANC NUK Lekgotla aangedui dat hulle die voorgestelde wysigingswetsontwerp verder wil wysig deur die hof se rol in die bepaling van die vergoedingsbedrag heeltemal te verwyder, en dit in die hande van die uitvoerende gesag te laat."
Londt sê grondhervorming en restitusie is nodig, maar die DA glo nie dit is nodig om Art 25 te wysig nie, aangesien dit reeds voorsiening daarvoor maak. "Die stadige pas van hervorming is as gevolg van die ANC regering se onvermoë, korrupsie en 'n onvoldoende begroting."
Hy sê onteiening kan en mag slegs gedoen word na deeglike oorweging deur 'n hof nadat die belange van alle partye opgeweeg is.
Londt sê die ANC se voorstel dat die hof slegs tydens die hersieningsproses betrokke moet wees, is onaanvaarbaar, aangesien dit in direkte konflik is met die oppergesag van die reg.
"Die DA is ten sterkste gekant teen die voorstel dat die uitvoerende gesag en of wetgewing die omstandighede bepaal waaronder onteiening sonder vergoeding mag plaasvind. Dit sou toelaat dat wysigings gemaak word, en dat regte verminder word, deur 'n gewone meerderheid in die nasionale vergadering.
"Daag asseblief op 4 April op en laat u stem hard en duidelik hoor."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'