EIENDOMSNUUS - Ten spyte daarvan dat wysigings aan deeltitel wetgewing reeds in Oktober 2016 aangebring is, heers daar nog steeds groot onsekerheid oor die tipe besluit wat geneem kan word en die wetlike vereistes daarvan.
Daar is drie tipe besluite wat geneem kan word, naamlik 'n gewone besluit:
Gewone besluite
'n Gewone besluit word geneem wanneer 51% (bereken in waarde) van lede teenwoordig of verteenwoordig stem ten gunste van 'n item op die agenda. Die normale kworumvereistes is van toepassing ten einde die besluit te bekragtig. 'n Gewone besluit word benodig om die items op die agenda goed te keur, tensy die Deeltitelbestuurswet of Bestuursreëls van die skema anders vermeld.
Dit sluit die voorgestelde begroting, geouditeerde state ens. in. Eienaars wat gelde aan die regspersoon verskuldig is, of die reëls van die regspersoon oortree het moet buite stemming bly indien 'n hof of 'n beregter uitspraak gelewer het ten opsigte van hierdie aangeleenthede. Hierdie eienaar het steeds die reg om te stem ten opsigte van 'n spesiale of eenparige besluit.
Spesiale besluite
'n Spesiale besluit word geneem wanneer ten minste 75% van die eienaars teenwoordig of verteenwoordig (bereken in waarde sowel as getal) ten gunste van 'n voorstel stem. 'n Spesiale besluit kan ook skriftelik geneem word indien 75% van die eienaars (bereken in waarde en getal) daarvoor stem.
Bestuursreël 20(9) bepaal dat 'n spesiale besluit net geneem mag word indien die lede by die vergadering meer as 50% van die totale waarde van al die lede verteenwoordig. Indien nie, mag die regspersoon nie die spesiale besluit binne sewe dae na die vergadering implementeer nie, tensy dit 'n dringende aangeleentheid is, of wanneer die veiligheid van die regspersoon en sy lede in gedrang is, of indien dit kan lei tot 'n verlies aan inkomste vir die regspersoon.
Voorbeeld: 'n skema met 20 eenhede (almal met dieselfde kwota/vloeroppervlakte) wil 'n spesiale besluit neem. By die vergadering is die minimum kworum vereiste teenwoordig (7 lede).
Die spesiale besluit word oorweeg en 75% van die lede (5 lede) stem ten gunste van die voorstel. Aangesien net vyf lede ten gunste van die voorstel gestem het, moet die regspersoon voldoen aan Bestuursreël 20(9) om die besluit te bekragtig.
Eienaars wat meer as 25% van die totale stem in waarde en getal het, kan binne sewe dae (nadat die spesiale besluit geneem is deur minder as 50% van die totale stemme) 'n skriftelike versoek rig aan die regspersoon om 'n spesiale vergadering te hou waar die spesiale besluit heroorweeg kan word. Die besluit kan nie geïmplementeer word nie, tensy die lede by die vergadering, weer ten gunste van die voorstel stem, of as 'n kworum nie teenwoordig is binne 30 minute na die aanvang van die vergadering nie.
Voorbeelde van 'n spesiale besluit is wysigings aan die gedragsreëls, of wanneer die regspersoon geld wil leen om sy pligte uit te voer, of waar die regspersoon beplan om eenhede te verhuur, te verkoop of aan te koop.
Eenparige besluite
'n Besluit word eenparig aanvaar wanneer al die lede van die regspersoon saamstem – so 'n besluit kan skriftelik geneem word of by 'n vergadering waar ten minste 80% van die lede teenwoordig is of verteenwoordig word (in beide waarde en getal, en waar al die lede ten gunste van die voorstel stem.
Indien 'n lid negatief geaffekteer word deur 'n eenparige besluit maak Artikel 6(8) van die Deeltitelbestuurswet voorsiening dat die skriftelik toestemming van die eienaar binne sewe dae nadat die besluit geneem is, bekom moet word.
Voorbeelde van 'n eenparige besluit is wanneer wysigings aan die bestuursreëls aangebring word of wanneer 'n deel van die gemeenskaplike eiendom vir meer as 10 jaar uitverhuur word.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels. huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'