Op Mosselbaai is probleme by Hartenbos se kieslokaal ondervind en kiesers berig dat sommige stemgeregtigdes na ure se gewag omgedraai en geloop het sonder om hul kruisies te trek. Kiesers het gemiddeld, volgens wat beweer word, twee na drie uur in die ry gewag. Volgens Mosselbaai se munisipale verkiesingsbeampte, mnr Edward Jantjies, is probleme by die Rolbalklub intussen aangespreek en is daar nou twee rye gevorm sodat kiesers vinniger deur die kieslokaal kan beweeg.
“By die Rolbalklub is daar tans sowat 350 mense in die ry, en daar het reeds sowat 1800 mense hul stemme daar uitgebring.”
Mosselbaai se DA onderburgemeesterskandidaat, Dirk Kotzé, wat in Wyk 8 staan, berig dat dinge in hierdie wyk goed lyk. Daar is na sy mening egter teen omstreeks 15:00 vanmiddag minder as die verwagte kiesersopkoms by D’Almeida ondervind. Jantjies gee Kotzé gelyk en sê dat by D’Almeida, waar sowat 3 000 kiesers geregistreer is, het daar tot nog toe maar sowat 800 kiesers gestem.
“Die wyke 9, 13 en 14 toon op hierdie stadium ‘n baie lae stempersentasie, maar daar is nog tyd en die weer het opgeklaar, kiesers kan gerus die stemlokale besoek. Wyk 9 se geregistreerde kiesers kan hul stemme uitbring by die Sao Bras Hoërskool, D’Almeida gemeenskapsaal, die Lutherse Kerksaal en Diaz Primêr. Wyk 13 se kiesers stem by die Lutherse Kerksaal en die Mosselbaai Binnenshuise sportsentrum, en Wyk 14 se kiesers kan nog hul kruisies gaan trek by Friemersheim se gemeenskapsaal, die VGK Groot-Brakrivier, die Multi Purpose Centre op Groot Brak en by die Denneprag Primêre skool.