TUINROETE NUUS - Daar is 'n rede hoekom die parlementslid in die nasionale raad van provinsies, Jaco Londt deesdae met 'n breë glimlag rondloop. Hy het onlangs verloof geraak aan die groot liefde van sy lewe, Dorcas Dube.
Die 35-jarige Londt, wat ook die voorsitter van die DA se oosstreek is, en lank in George gewoon het, het bevestig dat Dube (30) ingestem het om mev. Londt te word.
Geen finale troureëlings is nog getref nie. Voordat dit kan plaasvind, is daar eers ander aangeleenthede wat afgehandel moet word. Dube is oorspronklik van Zimbabwe en Londt moet nog haar familie formeel gaan ontmoet.
Gedurende April sal hy, sy pa, sy broer en 'n paar goeie vriende Bulawayo besoek. Tydens die besoek sal die sogenaamde Roora-gesprekke plaasvind. "Dit is wat ons in Suid-Afrika ken as lobola-gesprekke. Die gesprekke sal deur die loop van die oggend plaasvind en die middag is daar Roora-vieringe saam met vriende en familie."
Dis 'n lang pad wat Londt geloop het om liefde te vind en hy was versigtig om weer in 'n vaste verhouding betrokke te raak. Sy politieke bedrywighede het hom baie besig gehou met die balansering van parlementsverpligtinge, kiesafdeling-verantwoordelikhede asook sy rol as voorsitter in die streek.
Jaco Londt, parlementslid saam met die groot liefde van sy lewe, sy verloofde, Dorcas Dube. Hier wys Dorcas haar verloofring.
Alles het verander by 'n funksie wat hy in Mei 2018 in Kaapstad bygewoon het. Tydens die geleentheid het hy vir Dube, wat die bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Partners for Possibility is, ontmoet. Dit is 'n nie-regeringsinstansie wat betrokke is by leierskapontwikkeling.
"Sy het dadelik my oog gevang." Hy het 'n gesprek met haar aangeknoop. Londt skerts dat dit beslis nie liefde met die eerste oogopslag van Dube se kant was nie. "My humorsin het nie dadelik aanklank by haar gevind nie."
Londt het hom nie laat afskrik nie en haar vir 'n sosiale afspraak in die Kaap genooi. Sy het ingestem.
Reeds met die eerste afspraak het hulle mekaar se geselskap geniet. Hulle wou mekaar weer sien en het die volgende dag vir ontbyt ontmoet. Die gesprek het gevloei en daar was beslis chemistry.
Een van die groot uitdagings is dat Dorcas in Gauteng gebaseer is en Londt hoofsaaklik by die parlement in Kaapstad. Gelukkig beteken sy werk dat hy baie reis en hy het haar later in Gauteng besoek.
So het hulle 'n langafstandverhouding begin. Volgens Londt het dit bepaalde uitdagings, maar met deesdae se tegnologie is dit baie maklik om gereeld te kommunikeer en het hulle al tot in die oggendure gesels. Hulle poog om mekaar minstens twee keer per maand te sien.
'n Gelukkige paartjie. Jaco Londt, parlementslid saam met die groot liefde van sy lewe en verloofde, Dorcas Dube.
Dube het haar familie in Desember van die verhouding vertel en hulle is almal opgewonde. Hulle het reeds begin met die reëlings vir die Roora-gesprekke. Londt se familie en vriende steun ook die voorgenome huwelik en planne word tans gemaak vir die besoek in April.
Die egpaar sal hulle in Suid-Afrika vestig. Dube sal met haar loopbaan voortgaan en is van voorneme om haar meestersgraad in kommunikasie te voltooi.
Londt sal ook met sy politieke loopbaan voortgaan. "Sy steun my loopbaan, alhoewel sy self nie belangstel in politiek nie – wat in baie opsigte 'n seëning is."
Wat Londt die meeste beïndruk van sy verloofde is haar ongelooflike passie vir haar medemens. Volgens hom sien sy net die goeie in ander. "Sy is sagte mens, maar het 'n duidelike sin van reg en verkeerd waarby sy ferm staan."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'