NASIONAAL NUUS - Vir sommige mense is die naderende feesgety 'n tyd om te vrees, eerder as te verwelkom.
Dinge soos eensaamheid, gevoelens van verlies en hartseer, finansiële probleme, familietwis and misbruik van middels kan in die vakansietyd toeneem tot vlakke wat depressie kan vererger en in uiterste gevalle selfs tot selfmoord kan lei.
Volgens kenners is een van die eerste dinge wat in emosionele selfsorg nodig is om jouself en jou gevoelens te aanvaar. Mense verskil en iets wat een persoon terneergedruk laat voel, sal iemand anders dalk nie eens raak nie. Daar is nie 'n reg of verkeerd nie en jy is geregtig op jou gevoelens.
So uniek soos wat jou depressie-snellers is, is ook die aktiwiteite wat jou bui kan lig. Maak 'n lysie van dinge wat jou siel voed en jou batterye herlaai en skep geleenthede om dit te beoefen.
Beweeg tussen mense selfs al is hulle vreemdelinge, want afsondering kan 'n morbiede gevoel vererger.
Iemand wat 'n geliefde verloor het kan skuldig voel wanneer hulle die vakansietyd geniet. Maak vrede met die herinneringe van die verlede en begin 'n nuwe hoofstuk met nuwe tradisies as dit moet.
Sosiale media en televisie skep die illusie dat Kerstyd perfek en sonder enige konflik of hartseer moet wees. Stel realistiese verwagtinge en hou in gedagte dat familie en vriende ook elkeen met hul eie probleme worstel.
Vir lyers aan bipolêre depressie kan die stres van die feesgety die sikliese wisseling van opgewekte en terneergedrukte fases vererger en versnel. Volgens die webwerf van die South African depression and anxiety group (www.sadag.org) is dit belangrik om by 'n stabiele aktiwiteits- en slaappatroon te hou en seker te maak medisyne word getrou geneem.
• Volgens Nadia Ferreira van die Wes-Kaapse departement van gesondheid raai hulle persone wat professionele hulp nodig kry aan om hul naaste kliniek te besoek waar hulle indien nodig, na die geestesgesondheidsverpleegster verwys sal word.
Die volgende twee skakels op hul webtuiste kan ook handig te pas kom: http://bit.ly/2Q2Biiu en http://bit.ly/34HI56M.
The season to be jolly may be blue for some people rather than a festive red and green. Things such as loneliness, loss of a loved one, financial worries, family conflict and substance abuse can exacerbate depression and even lead to suicide in extreme cases. Accept your feelings and do what is necessary to keep yourself calm and centered. Seek professional assistance if needed.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'