MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag na aanleiding van die ongeluk waarin ‘n 34-jarige man gisteraand, omstreeks 18:30 oorlede is.
Die kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer het vanoggend tydens opvolgnavrae bevestig dat die oorsaak van die ongeluk steeds ondersoek word.
Volgens Koekemoer blyk dit of die motorfietsryer, Hendrik (Hencor) Combrinck beheer oor sy motorfiets verloor het in die draai tussen die polisiestasie en munisipale kantoor waarna hy teen versperrings links van die pad gebots het. Combrinck was klaarblyklik onderweg in die rigting van Louis Fourieweg.
“’n Blou Ford Ranger-bakkie was ook naby die ongelukstoneel. Die voertuig se band het gebars nadat dit ‘n rots wat in die pad beland het ná die motorfietsryer se botsing, getref het,” het Koekemoer verduidelik. Volgens Koekemoer was polisielede en nooddienspersoneel minute na die ongeluk op die toneel, waar Combrinck dood verklaar is. Hy was ‘n werknemer by SSK AgriLand, Mosselbaai.
Foto’s wat na vanoggend by die ongeluktoneel geneem is, dui van die skade aan. Foto: Verskaf
Vorige artikel: Botsing in Georgeweg eis motorfietsryer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'