MOTORING NEWS - 'n Afgetrede Mosselbaaier kan getuig dat 'n lewensdroom soms byna 'n leeftyd neem om waar te word.
Na dekades se verlange na sy eie Mustang, het die 70-jarige Div de Villiers se Mustang-droom in Februarie, heel gepas die maand van rooiwarm liefde, 'n werklikheid geword.
De Villiers het in 1964 verlief geraak op die eerste Mustangs wat in die VSA by die Dearborn-aanleg in Michigan vervaardig is. In daardie vroeë jare was die voertuig net met linkerhandstuur beskikbaar. Later jare het hierdie gesogte voertuig ook met regterhandstuur uitgekom en het De Villiers se droom nader gekruip.
Verlede jaar, na sy aftrede, kon hy en sy vrou, as gevolg van die Covid-19 pandemie, nie gaan toer soos beplan nie. De Villiers besluit toe aangesien die toer van die baan is, hy homself met 'n Ford Mustang gaan bederf.
Die hart van die Ford Mustang 5.0 GT Fastback met 'n 5 liter V8 enjin wat 331kw produseer met 529Nm wrinkrag.
Aan die begin van 2019 het De Villiers begin navraag doen en uitgevind vir so net meer as R1 miljoen, het hy 'n keuse van 'n paar modelle. Hy het sy hart op 'n rooi Ford Mustang 5.0 GT Fastback verloor en in September 2019 'n deposito neergesit. Die Fastback is 'n spogmotor met 'n 5 liter V8 enjin, 331 kW en 529 Nm wringkrag. Die Mustang is ook toegerus met 'n 10-spoed outomatiese ratkas en het verskeie ander indrukwekkende eienskappe.
Op 3 Februarie is die transaksie finaal beklink en nou is De Villiers die trotse eienaar van sy eie rooi gevaar.
Kyk 'n video hieronder
'We bring you the latest Garden Route, Karoo, Hessequa news'