MOTOR NUUS - Toyota is as die wêreld se groenste motorvervaardiger aangewys en word ingevolge 'n wêreldwye omgewingsprestasie-evaluering in opdrag van die Amerikaans tydskrif Newsweek as een van die omgewingsleiers onder die grootste openbare maatskappye beskou.
Die prys as die "Beste wêreldwyd in die bedryf" in die voertuigafdeling van die tydskrif se groengradering erken Toyota se prestasie op die gebied van volhoubaarheid asook die ekosensitiewe hibried- en brandstofselmotors. Toyota is in die sestiende plek onder die wêreld se 500 grootste openbare maatskappye, die Global 500 en het maatskappye soos Apple, Starbucks en Nike geklop.
Die jaarlikse Newsweek-gradering evalueer die wêreld se grootste beursgenoteerde maatskappye en gebruik agt reëls om omgewingsprestasie te bepaal. Die maatskappye word op elke gebied, insluitende energie-, water- en afvalvlakke opgeweeg.
Toyota se groen strategie is in die maatskappy se "Omgewingsuitdaging 2050" gesetel. Toyota wou verby sy nul-omgewingsimpak strek om 'n positiewe impak te maak deur ses doelwitte na te streef.
Die ses doelwitte vir 2050 sluit in om die koolstofvrystelling van nuwe voertuie met tot 90% teenoor dié van 2010 te verminder, om koolstofvrystelling in die vervaardiging, vernietiging en herwinning van voertuie uit te skakel, al sy aanlegte se koolstofvrystelling uit te skakel, die hoeveelheid water in die vervaardigingsproses te verminder, 'n herwinningsgerigte samelewing en stelsels te vestig en 'n toekomstige samelewing wat in harmonie met die natuur lewe, daar te stel.
Toyota het meer hibriedvoertuie as enige ander motorvervaardiger. Toyota het sedert die bekendstelling van die wêreld se eerste massaproduksie-hibriedmotor, die Prius, wat sy buiging in 1997 gemaak het, meer as 10 miljoen hibriedvoertuie in 80 lande regoor die wêreld verkoop.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'