MOTOR NUUS - Die oulike Etios is onmisbaar onder die passasiersmotors van Toyota Suid-Afrika en bied bekostigbare, betroubare en praktiese gebruik. Die Etios is in 'n luikrug- en sedan-weergawe sowel as 'n Cross-model beskikbaar.
Die reeks volg op die bekendstelling van die verbeterde Sprint-weergawe in 2017 en kry opnuut 'n magdom opgraderings asook 'n beperkte model.
Die Etios verkoop knap, met gemiddeld 1 000 eenhede per maand wat 'n tuiste kry. Die syfer beteken dit verskyn gereeld onder die gewildste tien motors op die verkopelys. Die luikrug-modelle verteenwoordig gemiddeld 65% van verkope (waaronder ook die Cross-weergawe) terwyl die sedanmodelle gewild bly by gesinne op soek na die groter bagasieruim wat 'n inhoudsvermoë van 562 liter het.
Beperkte Weergawe
Die opwindende nuus van Toyota se kant is die bekendstelling van 'n beperkte "Sport" model. Die Etios Sport voldoen aan die nuwe neiging vir individualiteit en kopers wat hul persoonlikheid wil wys. Dit spog met treffende tweekleurafwerking. Sport het 'n swart dak en kantpilare wat kontraskteer met gletserwit of retrorooi aan die onderste deel van die romp. Die tweekleur-blitsie staan werklik oral uit.
'n Swart sierrooster, deurspieëlhouers en afwerking aan die lugskort agter op die dak, rond die treffende tweekleurbehandeling af.
Die Sport-model word verder onderskei deur sy 15"-allooisierwiele in helder silwer wat by die Cross-weergawe geleen is vir ekstra trefkrag. Dié wiele met 185/60/R15-bande geskoei is, bied 'n puik balans tussen gemak, ratse hantering en lae rolweerstand.
'n Sport-kenteken rond die pakket af.
Die Sport is net as luikrug beskikbaar.
Opgraderings
Die hele Etios-reeks kry verbeterings binne, wat bewys is van Toyota se filosofie om produkte voortdurend te verbeter.
'n Splinternuwe Optitron-instrumentehuis word regdeur die reeks gebruik en bied die bestuurder beter leesbaarheid. 'n Nuwe toereteller met 'n digitale boog is links aangebring met die spoedmeter wat die uitleg voltooi. Sagte oranjekleurige agtergrondbeligting bied 'n eenvormige kleurskema.
Die intreevlak-Xi-model kry opgradering in die vorm van elektries-beheerde agterste vensters, wat dus beteken alle vensters maak oop en toe met die druk van 'n beheerknop.
Entoesiasties
Aandrywing is danksy die lewenslustige viersilinder-kragbron van 1,5 liter wat 66 kW teen 5 600 r/min lewer en 'n aanvullende 132 Nm by 3 000 r/min ontwikkel.
'n Uitstekende eienskap van die enjin is sy vrye toere en goeie wringkrag beskikbaar teen laer spoed. Dit maak die Etios 'n plesier om in verkeer te bestuur. Die snelweg skrik Etios ook nie af nie, al is dit 'n klein motor. Die naellopie van 0 tot 100 km word in 11,3 sekondes kafgedraf en die topspoed is 165 km wat Etios een van die ratsste motors in sy segment maak.
Die lewendige enjin is aan 'n vyfgang-handratkas gekoppel wat die voorwiele aandryf en 'n gemaklike ratkierie met stylvolle ontwerp.
Brandstofverbruik is ernstig benader en die amptelike verbruik is 5,9 liter per 100 kilometer in die sedan, terwyl die luikrug se verbruik op 6,0 liter per 100 kilometer te staan kom. Die nuwe Etios se CO2-uitlaatgas word laag gehou met amptelike syfers van 138 en 136 g/km onderskeidelik.
Gemoedsrus
Die Etios-reeks pronk met indrukwekkende veiligheidseienskappe en het 'n vierster-gradering van Global NCAP behaal. Hierdie telling is danksy aktiewe en passiewe veiligheidstelsels verkry. Hieronder is: lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), sitplekgordels met styftrekkers en lasbeperkers sowel as ISOFIX-ankerpunte vir kindersitplek.
Die motor het kopstutte in alle modelle en die agterste passasiers kry ook 'n driepuntgordel in al die modelle.
Modelreeks en pryse
- Luikrug 1,5 Xi - R171 000;
- 1,5 Sprint - R176 300;
- 1,5 Cross - R198 400 en
- 1,5 Sport - R178 800.
- Sedan 1,5 Xi - R179 500 en
- 1,5 Sprint - R184 400.
Alle Etios-modelle word gedek deur 'n diensplan van twee jaar of 30 000 kilometer wat deur 'n waarborg van drie jaar of 100 000 kilometer gerugsteun word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'