MOTOR NUUS - Ek ry al lank motorfiets, maar het myself nog nooit as 'n "biker" gesien nie. Ek ry bloot motorfiets omdat dit 'n baie praktiese ding is om te hê. Dit spaar tyd, is maklik en seker die belangrikste van alles, lig op brandstof. Meeste motorfietse is aan die ligter kant, veral bromponies, of poegies en scooters soos ons hulle noem.
Alhoewel motorfietse legio voordele het, is daar nadele ook. As motorfietsryer is jy baie meer blootgestel tydens ongelukke wat beteken noodlottige botsings en ernstige beserings kan makliker gebeur.
Dikwels is dit bestuursfoute van die motorfietsryer of die voertuigbestuurder wat lei tot ongelukke - bestuurders wat nalatig is, te vinnig ry, nie padreëls nakom nie of net dink hulle het al die reg op die pad. Dit raak natuurlik al hoe erger in ons narsistiese samelewing.
Ek ry 'n klein scooter vir pendeldoeleindes omdat dit baie brandstof spaar, en ek sien dit duidelik. 'n Enkelpersoon met 'n viertrekmotor dink hy het meer reg op die pad as 'n bromponieryer. Kom ons klaar dit nou eenmaal uit. Sak die waarde van 'n mens se lewe omdat hy iets kleiner as jy ry?
Uit ervaring bied ek 'n paar basiese veiligheidswenke vir beginners - veral in die stad.
Wenke:
- Moenie jaag nie - 'n motorfiets is 'n projektiel wat nie maklik stop nie. Moenie te vinnig ry waar motors of voetgangers enige tyd voor jou kan inbeweeg nie.
- Wanneer jy in 'n area ry waar motors geparkeer is, hou die truligte dop. Wees versigtig as jy sien 'n motor is in trurat. Die kans dat die motor jou nie sal sien nie is goed.
- Hierdie is my mening: Ry meer na regs van jou baan, dus nader aan die middel van die pad. Moenie heel links ry nie of presies in die middel van jou baan nie. Ek voel dat as jy in die middel ry, is jy in die blindekol van die motoris voor jou. As jy te stadig vir die vloei van die verkeer heel na links ry, sal motoriste kanse vat en verby jou druk en jou sodoende van die pad af ry. Ek voel jy moet bietjie meer na regs van die middel van die baan ry. Maak seker jou refleksie is in die bestuurder voor jou se truspieëltjie.
- Moet nooit arrogant wees nie. Al is jy 100% reg en die motorbestuurder verkeerd. Jy sal steeds slegter daarvan af kom as jy in 'n ongeluk is.
- Ry ekstra versigtig wanneer die pad nat is. Om draaie en sirkels kan diesel op die pad lê en jou wiel kan maklik gly. As dit erg reën trek liewer af en vermy poele op die pad - dit kan reuse slaggate wees.
- Dra beskermde klere. Dit behels baie meer as net 'n valhelm! Dra helder kleure sodat jy sigbaar is.
- Doen "line splitting" (die wettige ry tussen lane deur stilstaande of stadige verkeer) net wanneer dit veilig is en daar genoeg spasie is. Alhoewel dit in 'n motorfietsryer se reg is, moet dit nie arrogant doen dat dit motoriste omkrap nie.
- Maak seker jou motorfiets is gediens en dat jou flikkerligte werk.
- Wanneer jy enige stop nader, maak seker die motors van die sykante of wat wil draai sien jou. Moet nie aanneem omdat jy voorrang het, dat die motoriste weet van jou nie. Nader 'n kruising proaktief en paraat. Hou jou hande saggies op die remme, kyk na al die motors om hul reaksies dop te hou. Neem aan iemand gaan net ry.
- Kyk uit vir gate in die pad. Ry versigtig as die padoppervlakte sleg is. Kyk ook uit vir troeteldiere wat maklik uit hul erwe kan kom. Ek was self eenmaal amper in 'n ongeluk toe 'n groot hond my gepootjie het.
Daar is nog baie wenke, en ek sal graag wil hoor waarmee julle vorendag kom.
Kom ons wees meer verdraagsaam en onthou, of jy twee, vier of sestien wiele het, almal is geregtig op sy stukkie pad.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'