MOSSELBAAI NUUS - Wynand du Toit, een van Suid-Afrika se mees bekende militêre veterane, het Saterdag, 17 November sy nuwe boek, Soldaat, in Hartenbos bekendgestel.
Tydens die bekendstelling het Du Toit gesê 'n bestuurslid van die SA Weermagvereniging, Kobus Laubsher het hom gevra om 'n boek te skryf oor die gewone ouens, soos die infanteriste en wat hulle deurgemaak en beleef het.
"Ek het dit geskryf soos dit was. Tot die taalgebruik is geboekstaaf. Ek het probeer om die boek te skryf soos dinge regtig gebeur het."
Die boek is op Saterdag, 27 Oktober vrygestel. Du Toit en sy vrou Frances is die afgelope twee weke op toer om die boek landswyd bekend te stel. In minder as twee weke het hy reeds 500 eksemplare verkoop.
"Ek vat die leser deur die pad wat die infanteriste geloop het en het karakters geskep wat sal moet voortleef. Daarom sal daar opvolgboeke wees met dieselfde karakters.
"My doel is om ons wat daar was te laat onthou en die wat dit nie beleef het nie, in te lig wat gebeur het."
Du Toit het sy vrou bedank vir haar bydrae om hom weer in die lewe te laat opstaan, na hy 'n terugslag beleef het. "Ons het 'n verantwoordelikheid om te lewe. Jy mag nie sê die lewe is verby voor dit werklik verby is nie."
Hy het die gaste gevra om saam te staan en te bou op herrineringe. "As ons dit nie doen nie gaan ons herrineringe 'n aaklige dood vorentoe sterf."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'