MOSSELBAAI NUUS - Met die gemiddelde wagtydperk vir 'n nieroorplanting van agt tot 15 jaar, het die organisasie Transplant Education for Living Legacies onlangs meer Suid-Afrikaners aangemoedig om vir orgaanskenking te registreer.
Aangesien Augustus die begin van die maand vir bewusmaking van orgaan- en weefselskenking in die land is, het die organisasie gesê dat die aantal orgaanskenkers geleidelik afgeneem het tot die mate dat die wagtydperk vir skenking ook dramaties gestyg het.
Stella de Kock, die besturende direkteur van die organisasie, het aan die nuusagentskap, Kuku gesê dat die afnemende aantal orgaanskenkers wat in die land aangesluit het die afgelope paar jaar daartoe gelei het dat die gemiddelde wagtydperk vir 'n nieroorplanting van agt tot tien jaar tot tussen twaalf en vyftien jaar gestyg het.
De Kock het gesê die pandemie het 'n groot impak op die land se beperkte hulpbronne gehad, veral in die openbare gesondheidsektor en dat orgaanskenking nie die terugslag gespaar is nie.
Skenk lewe
Die vakbond, Solidariteit berig daar is tans duisende mense wat op 'n tweede kans wag.
Deur 'n orgaanskenker te word kan 'n kind wat vir 'n lewer wag gehelp word, of 'n dogtertjie wat graag wil kan sien of 'n brandslagoffer wat wag op vel om sy wonde te bedek. Die besluit om 'n orgaanskenker te word, is gratis en daar is ook geen koste verbonde vir naasbestaandes na die skenker se dood nie. Al wat 'n orgaanskenker moet doen, is om die familie in kennis te stel van die besluit, want hulle moet toestemming gee om die organe te laat verwyder.
Daar is tans 4 300 mense wat vir orgaanoorplantings wag. Enigeen jonger as 70 jaar wat redelike goeie gesondheid geniet, kwalifiseer.
Kontak die Stigting vir Orgaanskenking by 0800 22 66 11. Die stigting stuur 'n orgaanskenkerskaart wat skenkers in hul beursie kan hou en orgaanskenkersplakkers vir ID-boekies en rybewyse.
Die Mossel Bay Advertiser nooi lesers wat al van orgaanskenking gebruik gemaak het, of nog wag op orgaanskenking, om 'n e-pos te stuur na louise@groupeditors.co.za. Ons sal graag u verhaal wil hoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'