Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai se eie pampoenkoning, Willem le Grange het nie teleurgestel by die afgelope naweek se jaarlikse Heidelberg Pampoenfees nie. Hy het sy eie SA-rekord van 867,5kg gebreek met sy nuutste inskrywing, 'n Atlantic Gaint-pampoen van 904,5kg genaamd Sophia.
'n Totaal van 36 pampoene is ingeweeg. Die tweede en derde plekke het onderskeidelik aan twee Riversdallers gegaan naamlik Piet Lotz vir sy pampoen van 839kg en Elizna Lotz vir haar pampoen van 730kg.
Le Grange se 2021-inskrywing was verlede jaar tydens die einste fees, ook as die grootste pampoen in die Suidelike Halfrond gekroon.
Tans dra Sophia ook dié titel. Die meeste ander lande in die Suidelike Halfrond, soos Australië het nou eers hulle pampoene geplant en dus sal Sophia tot hulle iets groters oplewer, die rekord hou.
Le Grange se kampioenpampoen van verlede jaar, Tornado, is gekweek uit saad wat hy teen $40 uit die VSA ingevoer het. Vanjaar se pampoensaad het hy verlede jaar by Wykus Lamprecht by die skou in die noordelike streek gekoop.
Lamprecht het Le Grange verlede Vrydag kom help om sy pampoene te laai en was Saterdag ook ter ondersteunig by die skou.
Lamprecht was vir 'n kort tyd 2022 se SA-kampioen nadat sy pampoen, genaamd Barbie, die noordelike streek se inskrywings by die Goliat van Gat kompetisie wat op 19 Maart in Gauteng gehou is, die skaal op 846kg getrek het en as kampioenpampoen gekroon is.
Die oorsprong van die saad is van Ruben Mendi Hualde van Valtierra, Spanje wat die saadgene van Lamprecht en Le Grange se wenpampoene is.
VIDEO: Willem breek sy eie SA-rekord
Kweek om te eksperimenteer
Le Grange is 'n beskeie jong man wat vir Indigo Fruit Farming as plaasbestuurder op die Ruiterbosch Agri avokado- en sitrusplaas werk. Hy het vanjaar vier pampoene gekweek. Deur vier te kweek eksperimenteer en verbeter hy die genetika vir homself.
Volgens sy ander pampoene se gewig kon hy derde plek ook gekry het, maar die kompetisiereëls laat jou net toe om een inskrywing per koördinaatpunt in te skryf. Sy ander pampoene het onderskeidelik 779kg, 711kg en 638kg geweeg.
Le Grange spog dus met pampoen van meer as drie ton wat vanjaar op 'n klein lappie grond op die plaas waar hy werksaam is, gekweek is. Nadat die pitte geoes is, word die vleis aan ouetehuise, minder bevoorregtes ensomeer geskenk.
Goeie raad
Le Grange se raad oor hoe om so 'n massiewe pampoen te kweek, is die eenvoudig.
"Pas die klein plantjies soos 'n baba op. Hanteer die pampoen soos hy groter word beter as 'n vrou. Praat met die pampoen en vertel hom sy stingel is lekker dik en hy sal 'n mooi groot pampoen word eendag. Maak hom/haar snags toe met 'n kombersie."
Hoewel goeie raad, meen Le Grange dat dit baie harde werk verg. Dit is sy stokperdjie en na-ure en naweke verg dit baie tyd om die pampoene veilig te hou van insekte en diere. Natuurelemente bly ook 'n groot faktor en Sophia het vanjaar ongeveer 97dae gegroei voor die kompetisiedatum.
Le Grange se volgende teiken as als goed verloop is om die huidige wêreldrekord wat op 26 September 2021 in Italië deur Stefano Cutrupi opgestel is, met 'n gewig van 1 226kg, in 2023 te verbeter.
Helen Pretorius van Heideberg maak haar gemaklik op een van die pampoene.
Ons nuwe pampoenmodel. Die pampoen wat soos 'n stoel lyk waarop Alienka Steenkamp (9 maande) sit is Willem le Grange se tweede grootste pampoen. Dit het 779kg geweeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'