Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die grootste pampoen, nie net in Suid-Afrika nie, maar in die Suidelike Halfrond, kom van Mosselbaai af.
Die pampoen, wat die skaal die afgelope naweek tydens die Heidelberg Pampoenfees op 867,5kg getrek het, het twee rekords laat spat.
Willem le Grange wat hierdie kampioenpampoen gekweek het, werk as 'n plaasbestuurder in die Ruiterbos-omgewing.
Willem het drie sade vir $40 uit die VSA ingevoer en sy Atlantic Gaint Pumpkin-variëteit in sy tuin begin kweek. Hy groei al sedert September 2020 aan sy pampoene, waarvan hy die grootste Tornado gedoop het.
Fotogalery: Mosselbaai-pampoen breek rekords
Le Grange het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat dit 'n oorweldigende belewenis was toe die pampoen die skaal tot op 867,5kg trek.
"Ek het met my opmetings en berekenings geweet die pampoen is groot, maar dit was steeds 'n baie lekker gevoel om te wen en die rekords te breek," vertel Le Grange.
Tornado het die bestaande SA-rekord met 7,5kg verbeter het. Die huidige wêreldrekord staan op 1 191,5kg.
Kyk 'n video hieronder:
Le Grange het R17 500 as prysgeld ontvang terwyl sy pa, Casper le Grange, ook 'n Mosselbaaier, se pampoen van 665kg die tweede plek verower het met 'n kontantprys ter waarde van R8 000. Op Vrydag, 26 Maart is vyf van Le Grangese pampoene deur Afrishore gelig, op sleepwaens gelaai en na Heidelberg vervoer waar dit geweeg en vir enige defekte ondersoek is. Die twee wenpampoene word deur die organiseerders gehou en die pitte word versprei om die genetika te verbeter.
Fondsinsameling
Twee van die ander pampoene is Maandag, 29 Maart na Laerskool Hartenbos geneem waar juffrou Petro Prinsloo se klas en ander met groot ogies die yslike pampoene beskou het.
Dié twee pampoene word deur die graad RR-klasse gebruik om geld vir hulle bak- en brouprojek, asook vir die aankoop van opvoedkundige speelgoed in te samel. Ouers en leerders van die skool moet die gesamentlike gewig van die twee pampoene raai.
Vorige artikel: Pumpkin beats record
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'