MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit is bewus van materiaal, wat langs die kus opgemerk is, beide in die see en wat op strande uitgespoel het.
Op Dinsdag, 22 Oktober het lede van die publiek nuwe waarnemings van die materiaal naby Vleesbaai bevestig.
Daar word vermoed dat die materiaal ook deel is van die goedere wat in die onlangse verlede gedurende die rowwe seetoestande van 'n vaartuig afgespoel is.
Die materiaal kan, indien dit in die water dryf, 'n navigasiegevaar vir klein vaartuie inhou asook verstrengeling van seediere veroorsaak.
Die munisipaliteit se gekontrakteerde spanne was besig om dié materiaal van Diasstrand te verwyder, en is tans besig om dieselfde by Nautilusbaai te doen.
Die munisipaliteit sê die materiaal, wat eers op strande uitgespoel is, sal met water versadig wees en meestal in sand vasgevang wees. Tensy daar intense golfaksie is, is dit onwaarskynlik dat die materiaal terug in die see getrek sal word.
Wanneer dit opgemerk word, word lede van die publiek versoek om die Mosselbaai-munisipaliteit te skakel (044 606 5000), hul kontakbesonderhede verskaf en die adres/ligging van waar die materiaal gevind word te verskaf.
Sodra die inligting vasgelê is, sal verwydering plaasvind.
Foto's: Mosselbaai-munisipaliteit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’