RUBRIEK - Die meeste van ons gebruik WhatsApp elke liewe dag. Ons kan deur 'n WhatsApp video-oproep vir lang tye met ons mense in ander stede of lande kuier.
Die meeste van ons is op meer as een WhatsApp-groep, byvoorbeeld die kerk, die skool, die buurtwag en sportklub.
'n Moderne lewe sonder WhatsApp is haas ondenkbaar.
Die groot voordeel? Dis gratis.
Wel, soos die Engelse spreekwoord lui: "There's no such thing as a free lunch."
Facebook, die moedermaatskappy wat WhatsApp besit, sê hulle kan nie die diens langer verniet aanbied nie en dat hulle op een of ander manier uit hulle 2 000 miljoen gebruikers moet geld maak.
In plaas daarvan om WhatsApp-gebruikers 'n maandelikse of jaarlikse fooi te vra, het Facebook besluit om eerder jou privaat inligting aan te wend.
So, op 8 Februarie tree WhatsApp se nuwe privaatheidsbeleid in werking met 'n klomp nuwe terme en voorwaardes. Elkeen van ons wat WhatsApp gebruik het reeds 'n skerm ontvang wat aandui dat ons die voorwaarwaardes moet aanvaar. Indien nie, sal jou WhatsApp-rekening nie meer funksioneel wees nie.
Nou wat behels dit en hoe raak dit jou en my?
Die privaatheidsbeleid is 'n ellelange dokument wat regtig nie baie duidelik vir Jan Alleman is nie. Mens kan nie presies aflei watter inligting Facebook gaan versamel en presies wat hulle daarmee gaan maak nie.
Wat ons wel weet is dat Facebook, onder andere, jou telefoonnommer, jou WhatsApp-profielinligting, jou ligging, kontaklys, inligting omtrent jou foon, jou internet diensverskaffer, ensovoorts gaan gebruik.
Facebook gaan dié inligting versamel, stoor, verwerk en deel met ander Facebook-verwante maatskappye. Dit is logies dat maatskappye baie graag hierdie inligting sal wil bekom om produkte te bemark.
Jy sal in die toekoms vir hierdie diens met jou privaat inligting betaal.
Een positiewe punt is dat al jou WhatsApp-boodskappe geënkripteer is en niemand die inhoud daarvan sommer kan sien nie.
Indien jy 'n Facebook-gebruiker is, is die meeste van jou inligting waarskynlik reeds iewers by Facebook gestoor. Na my mening is die meeste van ons daaglikse aktiwiteite reeds so in die kuberwêreld verweef dat ons beswaarlik sal kan onttrek uit hierdie tipe lewe. Dus, die nuwe beleid is amper "consent under duress".
Ons het basies twee opsies:
- Ons aanvaar WhatsApp se beleid en neem verlief daarmee dat ons meer gereeld deur vreemde partye gekontak sal word wat produkte en dienste bemark; of
- Ons aanvaar nie die beleid nie en word afgesny van WhatsApp. In hierdie geval, maak seker jy verwyder jou WhatsApp-profiel en rekening behoorlik vanuit die toepassing. Deur jou WhatsApp-toepassing bloot van jou foon te verwyder, verwyder jy nie al jou inligting vanaf WhatsApp se rekenaarbedieners nie en jou inligting is steeds beskikbaar.
Indien jy besluit om WhatsApp te verlaat, kan jy Telegram of Signal as alternatiewe oorweeg, maar indien jou kontakte voortgaan om WhatsApp-groepe te gebruik sal jy uitgesluit word van hul kommunikasie.
Onthou ook, indien jy WhatsApp verlaat, maar jou vriend bly aan, sal jou kontakbesonderhede via jou vriend se adresboek aan Facebook beskikbaar wees.
Hierdie is 'n komplekse saak, maar ongelukkig sal ek nie in hierdie artikel meer inligting kan gee om jou te help met hierdie besluit nie.
Tog wil ek elkeen van julle net weer waarsku om geen inligting of foto's op enige sosiale media-toepassing te plaas of te deel wat hoogs privaat of vertroulik is nie. Moet ook nooit sensitiewe inligting in jou adresboek stoor nie. Baie mense skep byvoorbeeld 'n bankinskrywing in hul adresboek met hul PIN-nommers of wagwoorde daarin.
Ons gaan nooit weer sonder die kuberruimte kan klaarkom nie, maar elkeen van ons is verantwoordelik vir ons kuberspoor wat nooit weer uitgevee kan word nie.
•Prof Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan Nelson Mandela Universiteit.