BLOG - Woensdagmiddag toe saktyd verby is, toe gaan koop ek wyn. Nie omdat ek wóú nie. Omdat ek kón.
Die aand toe die tweede drankverbod van die grendeltyd aangekondig is, op daardie die presiese oomblik toe Cyril sê, “with immediate effect”, het my laaste bietjie Saronsberg Shiraz in my keel tot in die verdoemenis van my ingewande afgegly.
Verstaan my egter mooi, min sondes het ‘n houvas op my - nie eens die nasionale sport van die platteland, menende skinder nie. Inteendeel, ek het my wilskrag om ‘n wetsgehoorsame landsburger te wees nogal tydens die nasionale inperking op die proef gestel.
In apokaliptiese tye soos ons tans gló ons beleef, is daar altyd stories wat heldhaftige stertjies kry. Meestal wolhaarstories, maar wie is ek nou om te oordeel? Of ‘n mens nou kan bank toe gaan daarmee weet ek nie, maar mense vertel dit vir die waarheid. Daar word beweer dat goeie Christenvroue gedurende die drakoniese grendeltyd hulle toevlug tot sluikhandel geneem het. En, soos ek ook maar net gehoor het, nie net omdat hulle self ‘n ietsie gebruik nie, smokkelary blyk glo heel winsgewend te gewees het.
Ek kan nou nie vir diesulkes praat nie, maar Sondag had ek voorwaar genoeg gehad.
Al was dit nog nie Dinsdag, 18 Augustus gewees synde die amptelike einde van die nasionale ramptoestand nie, het ek op die strand gaan stap. Ek het eers soos ‘n ware skelm oor my skouer gekyk of iemand my sien en toe besluit ek – kwanele, kwanele!
Ek woon al 5 maande ingegrendel op Gourits, 300m van die strand af. Tot en met Sondag, het ek 4 maande en 3 weke laas my voete op dié stuk strand gesit. Van my huis af het ek baie mense sien strand toe gaan terwyl dit eintlik “onwettig” was. Ek het so lank moontlik by die reëls probeer bly. Maar Sondag kón en wóú ek net nie meer nie.
Toe Max du Preez hierdie week op RSG Geldsake ruiterlik erken dat “sy loodgieter tydens die drankverbod vir hom ‘n bottel whiskey kom aflewer het”, toe kry ek ook sommer hope sogenaamde Dutch courage - sonder dat ek ‘n drupel drank oor my lippe had.
My kriminaliteit loop hang ek toe aan die groot klok van sosiale media. Maar al wat ons mos deesdae ken is die aandklokreël. Dít egter daar gelaat.
Toe ek Woensdag by Dorsland-drankwinkel instap, groet ek en die tannie mekaar gul. Die kopery word ‘n heel sosiale affêre. Dis nie sommer vir kies, op die toonbank neerplak, kasregister slaan, betaal, kop knik en daar gaan ek nie. Nee, ons kuier en klik ons tonge spytig oor die inperking wat sóveel van ons landsburgers as kriminele aan die kaak gestel het. ‘n Hele bykans 300 000 inperkingsoortreders is in hegtenis geneem, verkondig die eerwaarde minister van polisie trots.
Mog alle misdadigers tog maar so vinnig aan die pen gery het, maar wat weet ék nou wat onwettig op ‘n verlate strand gestap het. Ek is immers maar net ‘n enkele boete agter my wettelose, 76-jarige ouers wat per abuis om die Punt gery het en hulle toe trompop in ‘n linie polisievoertuie loop.
Terwyl ek en die tannie nog so gesels, hou die voorraadlorrie voor die deur stil. Dis knap voor 5 en ek maak aanstaltes om te ry. Buite, korswel ek en die afleweringsmanne.
Ineens is ek terug in my tuisdorp in die 1980s toe ‘n kaas-en-wyn-houery aan die orde van die dag was.
My pa het altyd wyn uit Stellenbosch bestel. Dié het dan met die trein gekom en is by ons huis afgelaai, nes die afleweringslorrie by Dorsland. Per geleentheid het een van die afleweringsmanne, natuurlik onbekend met goeie wyn, op ‘n dag vir my pa gevra of hy van die pinotage (uitgespreek “pienotiets”) gaan verkoop. Wie sou kon dink, in daardie gewraakte apartheidstye dat ‘n korrupte, demokratiese regering 35 jaar later prohibisie sou toepas wat die wynbedryf bykans sou kelder.
Maar die son trek water en ek talm nie verder op dié donker gedagte nie.
“Laai maar goed,” sê ek ewe kontant van agter my masker vir die lorriebestuurder wat kordaat sy afleweringslysie uithaal. En ek stap selfvoldaan met sulke wye voete na my motor toe, my wyntjie in bruinpapiersak knus onder my arm ingevou.
Ek stap windmakerig soos ‘n wettelose struikrower.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'