MOSSELBAAI NUUS - Daar is 'n gewerskaf op 'n erf in Mayixhaleweg in KwaNonqaba waar die Mosselbaai-munisipaliteit 'n jeug- en kleinbesigheidsentrum tot stand bring.
Daar word voorsiening gemaak vir 13 klein besighede, persele vir daghandelaars, 'n motorwasfasiliteit, 'n mini-amfiteater, 170m² onderdaksitspasie, 'n buiteluggimnasium, speelarea vir kinders met onder meer klimrame, ablusiegeriewe en 18 parkeerplekke.
Die sentrum sal slegs toeganklik wees vir voetgangers.
Daar word ook spasie vir toekomstige ontwikkeling voorsien.
Kommer wat uitgespreek is nadat die gemeenskap opgemerk het dat plaveisel wat baie onlangs op die perseel aangebring is, weer verwyder word, is volgens die munisipaliteit ongegrond.
"Die plaveisel, teen 'n koste van R199 000 was aangebring toe aanvanklik beplan is om 12 vraghouers op die perseel te plaas vir gebruik deur kleinbesighede. Sedertdien het ons meer befondsing van die RSEP (Regional Socio Economic Progamme) en die SEIF (Shared Infrastructure Fund) vir die projek ontvang," berig die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Hy sê die plaveistene en die fondasielae wat aanvanklik op die perseel aangebring is word gevolglik herwin vir hergebruik op terrein. "Om die materiaal te herwin, word R85 352 bespaar."
Die munisipaliteit meld egter nie wat die arbeidskoste aan die aanvanklike installering van die plaveisel beloop het nie.
Op die pertinente vraag of die koste vir die installering van die plaveisel gevolglik as verspilde uitgawes geag kan word, sê die munisipaliteit: "Nee, materiaal word herwin en weer gebruik vir konstruksie."
Die Mossel Bay Advertiser het onlangs breedvoerig berig oor die munisipaliteit se voorneme om Mayixhaleweg in 'n spog-korridor te ontwikkel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'