MOSSELBAAI NUUS - Die eerste wedvlug van die Eden Posduiffederasie se 2022 duiweseisoen het die afgelope naweek afgeskop met 'n ope en jaaroud-wedvlug vanaf Drie Susters (270km).
Die wedvlugte het in mooi weer plaasgevind en die eerste duiwe het die afstand in net minder as 3½ uur afgelê.
Mosselbaai Posduifklub spog vanjaar met 31 lede waarvan sewe in die junior afdeling kompeteer.
Mosselbaai-klub se oudste en mees ervare lid, Rob Edwards van R&R Lofts het die ander lede behoorlik gewys hoe om jongduiwe te vlieg toe 'n jongduif van hom die jaaroud-afdeling met meer as 'n minuut in die klub ingepalm het.
Tweede was 'n duif van nuweling in die klub, Corrie Naude en derde en vierde onderskeidelik Mollentze Hokke en Van Eeden Lofts. Nog 'n duif van Mollentze Hokke neem die vyfde plek in.
In die ope afdeling klok Gillroy die eerste duif met Mollentze slegs 19 sekondes na hom. Mollentze neem ook die derde en vyfde plekke in met R&R Lofts in die vierde plek.
Juniors
In die junior afdeling is dit weer die jongste lid in die klub, Tashinga Kadye wat die eerste én tweede duif in die jaaroud klok. Sy klop Zante Strydom met amper 14 minute.
Zante klok onderskeidelik derde en vierde. Die vyfde plek word deur Jula Meyer ingeneem.
Nuweling onder die juniors, Carl Grové was eerste om in die ope van die juniors te klok. Tashinga klok onderskeidelik tweede en derde, met JW Schutte in die vierde en vyfde plekke.
Sprint
Die Mosselbaai-klub het vanjaar ook 'n spoedvlug (sprint) wat elke Vrydag plaasvind.
Die eerste een het reeds op Vrydag, 27 Mei vanaf Beaufort-Wes plaasgevind en is deur Erik van Eeden ingepalm met Mollentze tweede en derde, Essie Esterhuizen vierde en Daan Stander vyfde.
Daan palm die afgelope Vrydag se sprint vanaf Drie Susters in met Essie tweede, Richard Boshoff derde, Danie Barnard vierde en Corrie Naude vyfde.
Saterdag se wedvlugte vind weer vanaf Drie Susters plaas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'