Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Oud en jonk, mans en vroue het skouer aan skouer gespit en geplant by die NG Kerk Hartenbos ter viering van Boomplantweek, 1-7 September.
Die gemeentetuin spog nou met 22 suurlemoenbome.
"Dit was ‘n projek van ons gemeente se Getuienisdiensgroep om mense veral tydens Boomplantweek opnuut bewus te maak van ons verantwoordelikheid teenoor die skepping. Om ‘n boom te plant is mos een van die mees onselfsugtige dade, want die vrug daarvan word eintlik eers geniet deur mense wat ná jou kom," berig ds Johan Engelbrecht.
Daar is toe besluit om suurlemoenbome te plant, omdat suurlemoenbome nie net die mooiste sonskyngeel vrugte dra nie, maar ook omdat dit die wonderlikste en gesondste vrugte dra.
Fotogalery: Boomplantdag by NG Kerk Hartenbos
"Hiermee wil ons ook die gemeenskap rondom ons dien en nooi om by ons te kom vrugte pluk. Terselfdertyd herinner dit ons om self vrug te dra in ons lewe wat in liefdesdade aan die wêreld gestalte vind."
Engelbrecht verduidelik dat die gedagte voortspruit uit die Lemon Tree Project wat regdeur die wêreld aanhang geniet.
Ons het gesinne, kleingroepe en jongmense genooi, want die jongmense het baie keer die meeste energie en kreatiwiteit."
Engelbrecht sê dat hy gehoop het daarop om 10 bome staan te maak, maar sy stoutste verwagtinge is inderdaad oortref toe daar aan die einde van die plantery, meer as dubbeld in die grond gesit is.
"Ons nooi hiemee die gemeenskap om binnekort in Hartenbos te kom suurlemoene pluk, maar terselfdertyd daag ons ook ander uit om te begin bome plant."
Dis nie aldag dat so 'n diverse groep gemeentelede saam werk nie, maar NG Hartenbos het beslis 'n voorbeeld gestel met hulle bloomplantery.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'