MOSSELBAAI NUUS - “Die beste deel van vrouwees: Ek glo ons harte is anders aanmekaar gesit,” sê Cornel Knuppe.
Dis binnekort Vrouedag, en daarmee saam kom dikwels ’n wye reeks definisies van en assosiasies met “vrouwees”.
Vir Knuppe, ’n vrou wat in Mosselbaai grootgeword het, studeer het en nou saam met haar gesin woon, is dié dag een om vrouwees te vier, “in elke vorm wat jy dit kan noem: ma, vriendin, sussie, tot dierekind-mamma”.
Ma-wees
Vir haar is die rol van ma ’n groot deel van haar eie vrouwees. Mosselbaaiers sal haar dalk herken as die 8-jarige Stehan se mamma. Stehan is op vier jaar oud vir die eerste keer met kanker gediagnoseer, en Cornel het die afgelope jaar of twee hulle gesin se oomblikke van lig en donker tydens hierdie stryd met die Mosselbaai-gemeenskap gedeel - deur Mossel Bay Advertiser en ook deur hul Facebook-blad, Our little warrior Stehan.
Die stryd is nog nie verby nie, maar Cornel en haar mense kyk hom reguit in die oë.
“Ek is nou 38, en nou is die tyd wat ek saam met my gesin spandeer vir my meer werd as goud. Dit is oomblikke wat ons nie aan tyd kan koppel nie. Twintig jaar terug was ek jonk, vol opgewondenheid oor ’n toekoms wat voorlê. Ek was ’n jaar oorsee om die wêreld te gaan verken, nou is ek ’n vrou vir my man, Dwayne, en ’n mamma vir my seuntjie.”
As sy haar jonger self weer moes ontmoet, sou sy vir haar sê: “Niks is vir ons Here onmoontlik nie, en na elke moeilike storm skyn die lig weer.”
Cornel Knuppe
Vroue wat die pad saam stap
Cornel sê sy staan as vrou nou sterker as ooit en sou 10 jaar terug nooit kon dink dat sy sou wees waar sy vandag is nie. “Mens het altyd ’n plan vir jou lewe, maar God se plan is soveel groter vir ons lewens.”
Gelukkig het sy ander vroue in haar lewe wat hierdie pad saam met haar stap. Een van hulle is al daar sedert dag een!
“Ek het regtig nie ’n celebrity vrou wat vir my ’n inspirasie is nie, maar wel die vroue wat elke dag deel is van my lewe. Heel eerste is my ma, Ronel von Mollendorf.
“Sonder haar weet ek waarlik nie of ek eers amper sou wees waar ek vandag is nie. Sy is ’n steunpilaar van formaat in my lewe en vir seker ’n anker in die moeilikste tye.
“Daarby is my skoonma, Kathy, my skoonsussies (want ek het nie ander sussies nie) en my yster vriendinne, wat met gebed en liefde my op elke moeilike en makliker dae dra. Ek voel eerlik dat niemand alleen deur die lewe kan gaan nie, en om sterk vrouens aan jou kant te hê, maak daardie pad net soveel ligter.
Geloof
“Ons [vroue] dink en voel anders oor die lewe. Ons kyk met deernis na mense en ons is altyd gereed om die skouer of hand te wees vir iemand wat dit nodig het. In my lewe glo ek dat vrouens se lig anders skyn, veral as jy Jesus elke dag saam met jou dra.”
Die minder lekker deel van vrouwees, sê sy, is dat ons dikwels misverstaan word en dat mense baiekeer weens jou sagtheid reg bo-oor jou loop - “maar ons is sterk genoeg om ook deur dáárdie situasies te kom”.
“Ek glo dit is baie belangrik om Vrouedag te vier; om eg te kan wees in wie jy is en waar jy vandaan kom; om ander vroue se krone reg te skuif en dit vir almal ’n beter wêreld daar buite te maak. Daar is net iets besonders aan vrouwees, iets wat mens nie sommer net in woorde kan omskryf nie. Dis dieper as net ek is ’n ‘vrou’.”
Sy laat haar medevroue, oud en jonk, met die volgende boodskap: “Jy is besonders net soos jy is. God het jou perfek geskape. Mag jy onthou dat jou lig van ons Vader af kom en dat jy nooit moet vergeet om dit te laat skyn nie. Daar is baie storms in ons lewe, maar by God is waar ons vrede vind.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’