GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Vroue van die Groot-Brakrivier en groter Mosselbaai-omgewing word uitgenooi na ’n vroueoggend saam met die polisie.
Sers. Lauriane Botha, woordvoerder vir die Groot Brak-polisie, sê sy is opgewonde om elkeen by die geleentheid te verwelkom. Dit vind Saterdag, 24 Mei, om 10:00 by die AGS Greenhaven plaas. Die tema vir die dag is ‘Reset’.
“Baie vroue gaan deur so baie dinge in die lewe, in hulle huise en buite in die wêreld. Baie gaan gebukkend onder mishandeling, ander sukkel met kwessies rondom hul kinders - hulle dra baie bagasie.”
Daarom is hierdie tema gekies, sê Botha, om vir vroue ’n kans te gee om die reset-knoppie te druk.
“Die dag is vir alle vroue om net bymekaar te kom en te kom ontspan in die teenwoordigheid van die Here - sodat hulle weer hulle ingesteldheid kan verander en weet, sonder God kan ons niks doen nie.
"En die bagasie wat ons op ons eie dra en somtyds nie op ons gesigte wys nie, dat ons dit dié oggend sal vat ek vir die Here gee sodat ons ook kan voel ons is vrou, ons is waardig.”
Janine Neena Adams, ’n bekende pastoor van Kaapstad, sal ook ’n gasspreker by die geleentheid wees.
Terselfdertyd sal dit ook die polisie se Kerslig-herdenkingsdiens wees. Kapt. Rosetta Bhana sal hierdie deel behartig.
Brig. Belinda Pather, adjunk-distrikskommissaris van die Tuinroete, ander belanghebbendes en vroue in die polisiemag woon ook die geleentheid by.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’