Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap het die eerste Kerswense waar gemaak met hulle 30 dae Kersfeeswensprojek.
Vanaf 1 November 30 November word individue geïdentifiseer en gaan daar op 'n daaglikse basis Kerswense bewaarheid word teen 'n maksimum bedrag van R1 000.
Drie bedlêende pasiënte van die ACVV Seebries-tehuise se Kerswense is vandeesweek bewaarheid.
ER24-personeel van George en Mosselbaai het die drie vroue Woensdagoggend, 6 November vanaf ACVV Seebries-tehuis na die Punt in Mosselbaai geneem waar organiseerders en familie hulle ingewag het. Die drie vroue waarvan twee, Zenia van der Spuy (58) en Elmaryn Dippenaar (49) van die Ons Huis kom en Martie Steyn (57) van Onse Rus, is deur ER24 personeel sorgvuldig op paramediese draagbare tot by die rand van die parkering geneem waar hulle die see kon ruik en sien.
Kyk 'n video hieronder:
Martie is op 'n vroeë ouderdom gediagnoseer met demensie. Sy is tans bedlêend en sit af en toe op 'n stoel. Sy het volle versorging nodig op die oomblik en haar familie is baie hartseer om haar so te sien. Haar suster Magda kuier graag by haar en probeer finansieel help waar sy kan deur die heerlikste koekies te bak as 'n inkomste.
Elmaryn het breinskade opgedoen na 'n operasie. Sy kan egter niks vir haarself doen nie en is totaal afhanklik van hulp.
Zenia ly aan veelvuldige sklerose en is bedgebonde.
Hulle is ook elkeen getrakteer met 'n roomys wat deur hul helpers en familie vir hulle gevoer is.
Die familie is dankbaar teenoor Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap se Alisha de Lange, Marlise Labuschagne en Carla Viljoen en ER24 wat die Kerswense bewaarheid het.
Die drie vroue, van links Martie Steyn (57), Elmaryn Dippenaar (49) en Zenia van der Spuy (58) by die Punt met die see in die agtergrond.
Familie, vriende, helpers, verpleegpersoneel en die manne van ER24 hier saam met die drie vroue by die Punt in Mosselbaai waar hul Kerswense, om net weer die see te sien en ruik Woensdag waar geword het. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'