Elke lid word die kans gegee om sy volle potensiaal te bereik en om van geleenthede gebruik te maak wat hul leierskapseienskappe help ontwikkel.
Die Seejol-Seekamp vind elke jaar in Hartenbos plaas, waartydens die groep verskillende plekke besoek en by aktiwiteite betrokke raak. 'n Groep van 50 graad 9–leerders wat besoek afgelê het by die PetroSA Natuurreservaat, is afkomstig vanaf verskeie areas in die noorde.
Die studente van die Oyster Bay-reservaat is gevra om verskeie voorleggings aan die groep te doen, met die fokus op die projekte waarby die studente betrokke is.
Hierna is die leerders ingedeel in agt groepe, aan wie elk 'n dier wat tans in die reservaat voorkom of binnekort daar sigbaar sal wees, toegeken. Die groepe is voorsien van plakkaatpapier, waarop die inligting betreffende hulle dier aangebring en versier moes word. Daar is ruimte gelaat vir die leerders se eie inisiatief om ander interessante feite by te voeg.
Nadat plakkate voltooi is, het die groepe voorleggings gedoen en interessanthede oor hulle spesifieke diere gedeel.
Die dag is afgesluit met 'n toer deur die reservaat om die geskiedenis oor te dra en diere wat tans daar gehou word, te besigtig.
Die studente van OBR bedank PetroSA vir hulle gasvryheid waarmee die groep ontvang is.

Sarel Serfontein en Nicky Wilmers, twee studente van die Oyster Bay-reservaat, het die Seejol-groep, ook bekend as die Voortrekkers, tydens 'n onlangse besoek aan die PetroSA-natuurreservaat touwys gemaak oor hulle projekte.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'