OUDTSHOORN NUUS - Die Da Gamaskop-polisie maan opnuut lede van die gemeenskap om nie van voetpaadjies langs hoofroetes gebruik te maak nie, nadat voetgangers by drie geleenthede weer eens die slagoffers van rooftogte was.
In een voorval is 'n onderwyser van Erika Primêre Skool onderweg werk toe Vrydagoggend, 3 Augustus omstreeks 06:20 deur vier onbekende mans oorval en met 'n mes gedreig waarna hulle hom van persoonlike besittings ter waarde van meer as R5 000 beroof het. Die onderwyser het van 'n voetpad naby Keeromstraat en die Albert Luthuli-woongebied gebruik gemaak.
Nog 'n voetganger is gedurende 'n ander voorval gedurende die naweek op die voetpaadjie tussen Uitbreidings 8 en 13 deur vier onbekende mans van sy selfoon beroof.
'n Tienjarige seun is ook gedurende die naweek naby sy huis in Eilandstraat deur 'n onbekende man van sy selfoon beroof. 'n Onbekende man het die seun Saterdagoggend, 4 Augustus beroof.
Danksy twee wakker lede van die polisie se honde-eenheid, beide konstabels Marais, een van die plaaslike Langeberg-tak en die ander 'n besoekende lid van die Suurbaak-tak, is die vermeende rower by sy woning in Tsongastraat in die JCC-woongebied aangekeer. Die gesteelde selfoon is teruggevind en aan die seun terugbesorg.
"Ons waarsku voetgangers weer eens om nie alleen te stap nie en ook voetpaadjies te vermy.
"Dit is maklik vir misdadigers om tussen bosse te skuil en dan niksvermoedende voetgangers aan te val. Hou waardevolle intems, veral selfone, buite sig wanneer jy op straat of op 'n voetpaadjie stap," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'