GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Drie persone het die Groot-Brakrivier-gemeenskap op Facebook om hulp gevra ná hul motor op die N2 naby die George-lughawe-afrit aan die brand geslaan het.
Die plasing is op die groep, Groot Brak Rivier staan saam, gemaak. In die plasing vra Johan Smit of iemand hulle met kos kan help en dat hulle naby die Total-vulstasie onder 'n boom is.
Talle gemeenskapslede was egter skepties oor die versoek, onder meer omdat die Facebook-profiel waar die versoek vandaan gekom het, glo verdag gelyk het.
Woordvoerder vir die polisie op Groot-Brakrivier, sers Lauriane Botha, het egter bevestig die voorval het wel op 8 Februarie plaasgevind. Hoe die voertuig aan die brand geslaan het is nog onduidelik.
Botha het vroeër vandag, 25 Februarie, met die drie mense, Johan Smit, Tania Debod en Mornay Nelson in gesprek getree waar hulle naby die Total-vulstasie op Groot Brak was. Hulle is daar met 'n paar besittings en 'n tentseil om die reën te keer.
Johan Smit, Tania Debod en Mornay Nelson.
Botha sê sy het die voorval met brandweerdienste op George bevestig en ook die mense se versekeringspapiere onder oë gehad.
Hulle was glo op pad na Kaapstad om daar te gaan werk soek. Volgens Botha wag hulle nou vir 'n versekeringsuitbetaling voor hulle verder kan reis.
Sou iemand wou uitreik om die persone te help, kan hulle vir Botha kontak op 073 551 7358.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’