HARTENBOS NUUS - Die Hartenbos VLV se mees onlangse vrolike samekoms het op die kuns van decoupage gefokus.
Decoupage is dan sommer ook as die tema vir die vroue se kleredrag vir die geleentheid gebruik - en was dít nou ’n prettige ervaring.
Die tak se sameroeper van kuns en handvlyt, Dorea du Plessis, het die aanbieding vir die dag gelei.
Eers het sy die agtergrond en ontwikkeling van die kuns uit die vorige vyf eeue beskryf. Dit is gevolg deur voorbeelde van decoupage wat ook die verskillende gebruike daarvan geïllustreer het. Decoupage kan onder meer op glas, karton, hout en papier gedoen word; jy kan selfs ’n ou paar tekkies daarmee opkikker!
Daar is ook ’n verskeidenheid van tegnieke, maar vir dié geleentheid het die vroue slegs een geleer. Hiervoor het hulle die volgende gebruik: papierservette met prentjies op of sagte papier, verf, ’n kunskwassie (nr. 5-8), ’n skêr, modge podge (’n gom, seëlaar en vernis in een), asook die item waarop die prentjie geplak sou word.
Van hier het Du Plessis die lede en besoekers gelei tot hulle elkeen ’n aantal bruin papiersakkies in die mooiste geskenksakkies omskep het.
Daar was ook ’n demonstrasie oor hoe om droë blare uit die tuin in ’n plekmatjie te omskep.
Skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’