MOSSELBAAI NUUS - Donnagene Fourie se een wens vir haar seun, DB (14), en haar gesin is dat mense kon verstaan dat nie alle gestremdhede sigbaar is nie.
"'n Kind met vlak 1 outisme is nie ongeskik nie, hulle ervaar die wêreld net anders. 'n Bietjie geduld, sagtheid en begrip kan 'n ongelooflike verskil maak, nie net vir die kind nie, maar ook vir die ouers," sê sy.
Haar gesin bestaan uit haarself, haar man, Barry, hul oudste seun, Barry jr. (15), en DB.
DB was vyf jaar oud toe hy met vlak 1 outismespektrumversteuring, voorheen bekend as Asperger-sindroom, gediagnoseer is. Donnagene sê sy onthou daardie bevestiging nog soos gister; sy was nog besig met voorbereiding vir sy vyfde verjaarsdag toe dit kom.
Sosiale uitdagings
Toetse en 'n diagnose deur 'n dokter het gevolg ná 'n wonderlike onderwyser hulle ingeroep het en gesê het dat DB sekere tekens van outisme toon, veral in sosiale omstandighede.
"Hy het baie keer eensaam op sy eie gespeel en homself vanaf die groep verwyder; hy sou deur 'n bondel kinders hardloop en nie optel dat hulle besig is om sosiaal te verkeer nie, en dan ook nie om verskoning vra nie; hy sou op sy ruggie lê en soos 'n engeltjie maak met sy hande en voete, op en af; hy was nie goed met geraas nie, ensovoorts," vertel sy ma.
Van daar was die proses om sy diagnose te kry gelukkig vinnig.
Een van DB se uitdagings met outisme lê in sosiale interaksie (geselsies, oogkontak, verstaan van emosies), sê Donnagene. Verder hou hy van roetine en voorspelbaarheid - veranderinge kan vir hom stresvol wees.
"Hy het spesifieke belangstellings (baie gefokus op sekere dinge) en hy is klanksensitief. Hy is oudiosensories, en dit beteken dat hy alle klanke ewe hard hoor - ons ore kan klanke wat nie belangrik is nie, uitdoof, maar sy ore kan dit nie doen nie."
Vreugde en verwerping
Maar in die Fourie-huishouding bring hy baie vreugde, sê sy ma. "DB het 'n ongelooflike persoonlikheid en 'n baie skerp sin vir humor, en hy is gelukkig by die huis. Ons ken hom nog altyd soos hy is, en ons het hom lief net soos ons hom ken.
Die Fourie-gesin, Donnagene, DB, Barry jr. en pa Barry.
"Daarom is tuis nie vir ons moeilik nie. Die uitdaging is meer wanneer hy met ander mense in aanraking kom. Hy kan baie info dump omdat dit sy coping mechanism is, en dit maak dat hy vreemd voorkom... Hy groet sonder om in die oë te kyk en hy lees baie situasies uit konteks uit. Dit maak die lewe vir hom baie moeilik."
Sy sê as mense dít verstaan, is dit makliker, maar die gesin se grootste hartseer is om die verwerping saam met DB te beleef, omdat mense nie verstaan dat hy nie ongeskik of selfsugtig is nie.
Vlak 1 outisme
Volgens Donnagene is daar min kennis oor kinders met vlak 1 outisme.
"Hulle lyk normaal, maar die sosiale aspek van die lewe is vir hulle ongelooflik moeilik. Hulle is baie gefokus op dinge wat vir húlle interessant is, so hulle kom as iemand voor wat net eendimensioneel dink.
"Eintlik is hulle baie interessant, en as jy net luister, kan jy die wonderlikste dinge leer.
"Die kinders in die skool is wreed omdat hulle dink [kinders met dié vlak outisme] is ongeskik wanneer hulle nie met deurmekaar dinge kan cope nie. Daarom word hulle ook baie deur ander kinders lelik sleggesê, en dit maak dit weer moeilik om hulle identiteit positief op te bou en hulle te laat verstaan hulle is ook belangrik."
Die regte skool
Die Fouries woon nou al drie jaar in Mosselbaai, en Donnagene sê dit was vir hulle 'n gróót uitdaging om vir DB die regte skool te kry. "Dit is moeilik. Daar is nie die regte skole nie, en daar is ook nie bewusmaking vir die ander kinders oor hoe om die vlak 1 outistiese kinders te verstaan nie.
"Ek voel die belangrikste is inligting - om mense en kinders te leer van hoe ons kinders dalk in situasies mag optree, en dat hulle ook nog leer en navigate hoe om in hierdie wêreld te oorleef.
"DB het my geleer om die wêreld op 'n ander manier raak te sien - stadiger, dieper en meer eg. Wat vir baie mense 'klein goed' is, is vir ons groot oorwinnings. Ek leer elke dag by hom dat anders wees nie minder is nie - net anders.
"As mense net met 'n bietjie meer geduld en oop harte kyk, sal hulle sien hoeveel waarde, suiwerheid en eerlikheid daar in 'n kind met outisme lê."
Radio33 is tans besig met 'n onderhoudreeks, ook vir outismebewusmaking, en Donnagene en DB is op 11 Mei om 19:00 deel daarvan. Voor haar was ander plaaslike ma's, Christine Jordaan en Marilize Swart, op 27 April op die lug, en nog 'n ma, Marlene van Niekerk, op 4 Mei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’